GEORGE NUUS - Dis weer daardie tyd van die jaar waar volrond dames vanoor die Tuinroete 'n ekstra huppel in hul stap sit en omtrent die koppe laat draai.
Vyftien vroue neem vanjaar aan die eindronde deel, wat op Woensdag 21 Desember by die George-kunsteteater aangebied word. Ses finaliste van George, vyf van Knysna, drie van Oudtshoorn en een van Mosselbaai maak gereed vir stywe kompetisie.
Die geleentheid begin 19:30 en kaartjies kos R70 per persoon.
"Wat dié geleentheid nog meer spesiaal maak, is dat dit onrealistiese skoonheidstandaarde uitdaag wat vroue dikwels ongemaklik in hul liggame laat voel," het Carly Adams, die meesterbrein en koördineerder van die inisiatief, gesê.
"En met sosiale media waar kuberboelie oor gewig steeds drasties toeneem, volg dames, jonk en oud gewoonlik ongesonde eetgewoontes om in te pas en meer 'aanvaarbaar' te lyk."
Met 'n inisiatief soos Mejuffrou Volrond wat terugkap en bewusmaking oor hierdie einste kwessie bring, hoef geen vrou te voel haar waarde word bepaal weens die grootte van haar liggaam nie. Inteendeel, een van die doelwitte van dié projek is om vroue aan te moedig om verby die oppervlak te kyk en om nie hulself met ander vroue te vergelyk nie, juis omdat elke vrou uniek en enig in hul soort is.
Adams het die projek in 2017 begin: "Daar is nie genoeg verteenwoordiging vir plus-sized vroue nie. Ek wou dus 'n safe space vir hulle create waar hulle gemaklik kan wees met hulself en tussen ander."
Carly nooi almal uit om die eindronde van die kompetisie by te woon en beloof dat dit nes die vorige kere 'n aand gaan wees wat 'n mens moeilik gaan vergeet. Kom geniet die aand saam met die beauties van die Tuinroete.
Organiseerder Carly Adams
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'