GEORGE NUUS - 'n Man van Rosedale, Brandon Langley (45), veg om sy lewe in die intensiewesorgeenheid van die George-hospitaal ná hy Sondagoggend, 10 April omstreeks 02:00, met 'n mes gesteek is.
Langley en sy vrou, Ziema, was op pad huis toe van 'n taverne in Abelstraat, toe hy deur 'n onbekende man in sy hart gesteek is.
Die motief vir die aanval is nog onduidelik.
"Ons ken nie die man nie en weet nie hoekom hy dit gedoen het nie. Ek het hom in die taverne sien sit toe ons daar was. Hy het moeilik geraak en hulle het hom uitgegooi.
"Toe ons op pad huis toe was het hy van voor af in die straat aangekom en Brandon gesteek. My man was amper dood," vertel Ziema.
Die Langleys bedank graag 'n vriendin, Ellenice Juries, wat saam met hulle daar was die aand. "As dit nie vir haar was nie, was my pa seker dood. Sy het hom bygestaan en behandel tot die ambulans daar aangekom het. Die ambulans was binne 10 minute op die toneel," vertel Langley se dogter, Bianca.
Volgens gerugte spruit die voorval uit 'n vorige bakleiery dié aand waarin die verdagte en nog 'n persoon betrokke was en dat die verdagte die slagoffer met die man waarmee hy vroeër baklei het, verwar het. Alle moontlikhede word deur die polisie ondersoek.
Langley het Maandag sy oë oopgemaak na 'n noodoperasie kort na die voorval aan sy hart gedoen moes word. Hy sterk tans in die hospitaal aan.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê Pacaltsdorp-polisie het 'n dossier van poging tot moord geopen. "Die slagoffer is na bewering gesteek en per ambulans na die hospitaal vervoer. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort," het Pojie gesê.
Enigeen met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, ao. Patricia Stoffels Stoffels, by 044 803 9130 of 079 894 1589 te kontak.
Dogter drie jaar gelede voor nagklub omgery
Langley se dogter, Bianca, is drie jaar gelede op Sondag 31 Maart 2019, deur 'n silwerkleurige VW Golf 5 voor Club Rush in Pacaltsdorp, omgery.
Sy en haar vriende was na bewering op pad huis toe, toe die voorval in die parkeerarea voor die winkelsentrum langs die klub, plaasgevind het.
Ooggetuies het destyds aan haar pa vertel hoe die motor eers bo-oor haar gery het, stilgehou het en toe in trurat weer bo-oor haar gery het.
Sy het onder die kar vasgesit totdat omstanders die voertuig opgelig het.
Volgens Bianca is die bestuurder van die voertuig nooit opgespoor nie.
Verwante artikel: Car ploughs into bystanders
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'