GEORGE NUUS - Die Early Act-klub by Laerskool Outeniqua het onlangs spesiale erkenning vir hul werk ontvang.
By die streekkonferensie van die Rotariërs (wat 'n area dek vanaf Plettenbergbaai tot die Kaapse Metropool, en noordwaarts insluitend die Noord-Kaap, Namibië en Angola) is hulle aangewys as die beste Early Act-klub in dié area vir 2022 en 2023.
Early Act word by laerskole deur die internasionale Rotariër-diensorganisasie ondersteun en het as doel om geleenthede te verskaf aan jong leerders om aktiewe burgers te wees in 'n kultureel diverse samelewing in 'n interafhanklike wêreld.
Die toekenning is by 'n saalbyeenkoms op 8 Mei aan die skool oorhandig.
Spesiale vermelding is gemaak van onlangse projekte van die klub, wat insluit uitreike na Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum, die George-nagskuiling asook die Milestone Development Programme (voorheen bekend as die Wikkelwurms) by Bethesda.
"Deel van ons missie as 'n waarde gedrewe skool is om ons leerders by te staan en te bemagtig om die nood in ons samelewing te verstaan, en dan ook te help om 'n positiewe bydrae te maak," vertel die skoolhoof, dr. Nico Venter, "en Early Act verskaf aan ons 'n manier om ons hieraan te verantwoord".
Die president van die George Rotariërklub, Di Kershaw, sê: "Ons is so trots om al vir meer as 10 jaar hierdie pad met Laerskool Outeniqua se Early Actors te stap. Hulle inisiatiewe verpersoonlik die leierskap, empatie en gemeenskapsbetrokkenheid wat ons land baie nodig het."
Van links is Di Kershaw (George Rotariërs se president), Arno de Jager (Early Act lid 2022), Sibabalwe Ncumbe (Early Act lid 2022), Danielle Barnard (Laerskool Outeniqua Early Act-koördineerder) en Wilhelm van der Vyver (Rotariër en Early Act-skakelpersoon).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’