Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Ou perdewa wat goedgunstiglik aan die tolhuis in die Montagupas geskenk is, gaan omskep word in oornaggeriewe by die historiese baken.
Dit sal gebruik word deur stappers wat deelneem aan die Klein Karoo Camino van hoopstaptog.
Die tolhuis is een van George se geskiedkundigste geboue en is reeds in 1845 gebou. Danksy restourasie pogings van Gerda Stols en hulp van die gemeenskap is dit vandag een van die Suid-Kaap se grootse toeriste-trekpleisters.
Die wa het op die perseel van Francois Ferreira Academy naby die George-lughawe gestaan en is verlede Vrydag na die tolhuis geskuif.
Stols van die Vriende van die Tolhuis het Maandag gesê sy het die wa sien staan by die Francois Ferreira Academy. Ferreira is 'n bekende sjef in die gebied.
Sy wou weet wat hulle daarmee doen en of sy dit kon benut. Ferreira het toe onderneem om haar navraag met sy vennote te bespreek.
"Hulle het uiteindelik ingestem om dit aan die tolhuis te skenk. Ons probeer nog vasstel presies hoe dit oud dit is. Ek vermoed dis minstens 100 jaar oud."
Volgens Stols is dit 'n besonderse lang wa. Dis langer as die transportwa wat reeds by die tolhuis is.
VIDEO: Perdewa kry nuwe tuiste
Die nuwe toevoeging gaan nou gerestoureer word en 'n wakap kry. Die plan is om dit in te rig as oornagakkommodasie vir die stappers van die Klein Karoo Camino van hoop.
"Ons is ongelooflik dankbaar vir die wa. Ek en my man, wyle Johan, het gedroom van 'n ossewa-herberg by die tolhuis. Dit maak van ons droom nou 'n realiteit."
Sy het gesê mense is welkom om enige skenking van ou rytuie te maak wat by die tolhuis sal staan.
Ferreira het die skenking bevestig en gesê hulle maak graag 'n bydrae tot die erfenis van die gebied.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'