Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Een van die bekendste skole in die land, George se eie Hoërskool Outeniqua vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar en groot feesvieringe vind oor die hele jaar plaas.
Nie net word leerlinge en onderwysers betrek nie, maar ook oudleerlinge, oudonderwysers en die gemeenskap.
In die 100 jaar van die skool se bestaan het meer as 25 000 leerlinge op sy skoolbanke gesit en sowat 800 onderwysers het oor die jare voor klasse, op die sportvelde en in kultuursale gestaan.
Aan bekendes wat by die skool was, ontbreek dit nie. Van die bekendes is oor 'n wye spektrum en sluit in Bianca Buitendag, Olimpiese medaljewenner, Gert van Tonder, van die destydse Groep Twee, JP Landman, meningsvormer, Emsie Schoeman, etiketkenner, prof. Arthur Blacksley, internasionaal erkende wetenskaplike en Mej. Heelal 2017, Demi-Leigh Nel-Peters.
Die skool het onder meer 42 professore, vyf regters en meer as 100 doktorale graduandi opgelewer.
Altesame 58 oud-Kwaggas het die afgelope 98 jaar in 27 verskillende sportsoorte nasionale kleure verwerf en 66 het op kultuurgebied naam gemaak waaronder 'n wêreldbekende pianis, hoboïs, kunsfotograaf en sjef.
Chris Hattingh, adjunkhoof en feesdirekteur, het reeds in 2022 begin werk aan 'n uitgebreide feesprogram. Hy het Maandag 13 Februarie, gesê met die samestelling van die feesprogram is gepoog om die kollig op die wye verskillende afdelings van die skool te plaas. Sport en kultuur kry aandag. Daar is byvoorbeeld 'n kaskarwedren op 4 Maart en 'n Eeufeesportnaweek op 17 en18 Maart.
VIDEO: Kwaggas is 100 jaar oud
Op 13 Mei word erkenning gegee aan die "Groot Olifante" van die skool. Dit is al die personeel wat langer as 20 jaar by die skool was en steeds is. Op die oomblik is daar 35 personeel wat al langer as 20 jaar die skool is
Alles bou op na die hooffees wat van 21 tot 30 Julie plaasvind. Die skool is op 16 Julie 1923 gestig en die amptelike inwyding was 20 Julie 1923. As deel van die week gaan 'n groot optog deur die strate van George gehou word.
Op 9 Augustus is dit tyd vir die Goue oues-fees. Tydens die geleentheid sal erkenning gegee word aan alle oudleerlinge wat 75 jaar en ouer is.
Hattingh het benadruk almal wat 'n verbintenis met die skool het, of gehad het, is welkom deel te neem. Dit sluit die gemeenskap van George in.
Die volledige feesprogram is op die skool se webtuiste / fb-blad / nuusbrief / D6 / ALUMNET.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'