Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) kan nog 'n toekenning by sy reeds lang lys van prestasies die afgelope paar jaar voeg. Die skool is verlede Vrydag, 13 Maart, as die derde beste skool in Kwintiel 5 in Suid-Afrika aangewys.
Dit is die eerste keer dat die skool die prestasie behaal. Daar is meer as 300 Kwintiel 5 skole in Suid-Afrika en dit sluit die top-openbare skole in die land in.
Die skoolhoof, Christo Vorster, het Dinsdag gesê in 1993 is openbare skole volgens die inkomste van die ouers in vyf kategorieë opgedeel. Die skole wie se ouers die hoogste inkomste gehad het, is in Kwintiel 5 ingedeel en die armste skole in Kwintiel 1.
Die res van die skole is in Kwintiel 2, 3 en 4 ingedeel.
Volgens Vorster het die skool se matriekgroep van 2019 'n besondere jaar gehad.
Altesaam 54 kandidate (16,07%) het A-gemiddelde behaal en 21 kandidate het 'n gemiddeld bo van 85% gehad. Sewe kandidate het 'n gemiddeld van bo 90% gehad. Die skool is die enigste skool in die Wes-Kaap wat meer as 300 matrikulante vir die eksamen ingeskryf het en al 334 het geslaag.
Personeel van Hoërskool Outeniqua Dinsdagmiddag voor die skoolsaal. Hulle speel 'n groot rol in die skool se sukses. Foto: Eugene Gunning
In totaal is 567 vakonderskeidings behaal. Dit is 24% van al die vakke wat geskryf is. "Met die toekenning word bewys dat harde werk en ondersteuning van die gemeenskap vrugte afwerp. Dit is 'n groot voorreg om so 'n toekenning te ontvang," het Vorster gesê.
Oor die redes vir die sukses het hy gesê dit is onder meer die goeie grondslag wat by die voederskole gelê word. "Ons is bevoorreg om goeie voederskole te hê en daarom kan ons op die goeie fondamente voortbou."
Bydraend is ook die werk wat gedoen word in gr. 8 tot 11.
Vorster het benadruk dat die matriek-groep van 2019 baie hard gewerk het. Die harde werk van die onderwysers en die ouers moet ook nie vergeet word nie en verdien vermelding. "Die ouers het 'n groot rol gespeel. Hulle het ons gesteun wanneer ons met hul kinders gepraat het."
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'