TUINROETE NUUS - Nie alleen is die twee Von Solms-broers en beide hulle dogters kubersekerheidkenners nie, hulle is boonop al vier professors.
Professor Rossouw Von Solms, wat onlangs na Kleinbrakrivier verhuis het en sy broer, Professor Basie von Solms van die Universiteit van Johannesburg en RSG se Tjailatyd-faam, is reeds dekades saam in die inligting- en kubersekerheidveld.
Hulle het al talle projekte saam gedoen, 'n boek gepubliseer en verskeie navorsingsartikels saam geskryf. Hulle hou ook gereeld saam vakansie in die Suid-Kaap aangesien Basie ook 'n vakansiehuis op Kleinbrak besit.
Maar, soos Rossouw sê, dit gaan selfs verder. Sy dogter is Prof. Sune von Solms van die Universiteit van Johannesburg en sy broer se dogter is Prof. Elmarie Kritzinger van Unisa - albei aktief en bekend in die kubersekerheidveld.
Rossouw lewer van Januarie 2019 twee keer 'n maand 'n rubriek oor kubersekerheid vir George Herald, soos wat hy reeds geruime tyd vir die koerant se susterspublikasie Mossel Bay Advertiser ook doen.
Die rubriek gaan lesers help om aanlyngevare te vermy en verantwoordelike kubergebruikers te word.
Tydens 'n onlangse ontmoeting met die George Herald in Kleinbrak, het drie van die vier kenners gewaarsku dat mense geneig is om die gevare van die kuberruim en hulle aanlynaktiwiteite te ignoreer, tot hulle 'n lelike bloutjie loop.
"Dit wil voorkom asof mense eers ingeloop moet word voor hulle 'n studie maak van veilige aanlynpraktyke en dit dan implementeer. In my rubriek gaan ek praktiese raad gee hoe om jou persoonlike inligting te beskerm en die kuberruim so veilig as moontlik te betree," sê Rossouw.
Die Von Solms-broers kom oorspronklik van Port Elizabeth en was van meet af aan gefassineer met informasie tegnologie, 'n veld wat teen die spoed van lig ontwikkel en verander. Basie sê hoewel dit ontsettend interessant is, is dit ook vreesaanjaend. "Alles is gekoppel. Alles is op jou rekenaar en internet. Jou fiksheidstoestel is gekoppel met jou voertuig, jou alarm met jou foon. Dit is 'n 'internet of things'. Al jou toestelle gaan uiteindelik beheer word."
Sy dogter, Elmarie se navorsing fokus hoofsaaklik op bewussynskepping en opvoeding oor kubersekerheid. Haar passie is om skole van 'n kubersekerheidshandboek te voorsien sodat kinders van kleins af weet hoe om in die kuberruimte te werk te gaan. Sy en haar gesin sluit op die 23ste Desember aan by die res van die failie wat vir die vakansie uitspan op Kleinbrak.
Sune benadruk alles is interkonnektief, maar dat ons dinge skep sonder om te weet wat dit kan doen of wat die potensiële gevare is. "Ons skep dit sonder om te weet wat die gevolge is. Hoe gaan ons dit in die toekoms beheer, of gaan dit ons beheer? Krakers is ook lank nie meer hoogsopgeleide IT-boffins nie. Jy kan met min kennis en moeite baie gevaarlike programme van die internet aflaai."
Rossouw sê voor 'n nuwe pil op die mark kom, word jare se navorsing gedoen om te toets vir newe-effekte, maar nuwe tegnologie se reuse impak word deur niemand getoets nie.
"Hoe gaan 'n selfbestuurvoertuig wat 'n kop teen kop botsing probeer vermy, besluit of hy in 'n groep mense gaan injaag en die passasiers se lewe red, of teen 'n afgrond afry en die voetgangers spaar? Missiele kan gekaap word. Krakers het al lande soos Estonia in chaos gedompel deur die land van die internet te haal. Die Britse gesondheidsdiens, NHS, is vanjaar deur krakers tot stilstand gedwing. Die onbeheerde ontwikkeling van die kuberruim kan ons eie vernietiging veroorsaak. Dit is 'n 'genie' in 'n bottel." Maar dit bly interessant.
Die eerste rubriek in Prof. Rossouw von Solms se reeks 'Veilig in die Kuberwêreld' verskyn op 17 Januarie 2019 in die George Herald.
Die vierde professor is Prof. Basie se dogter, Elmarie Kritzinger.
• Prof Rossouw von Solms is ‘n emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kubersekerheid aan die Nelson Mandela Universiteit.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'