TUINROETE NUUS - Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 21 Augustus kommentaar ingedien op die beoogde eksplorasie-aansoek in 'n streek van die kusgebied tussen St Francisbaai en Mosselbaai.
SLR Consulting doen namens Total SA aansoek om 11 gate aan die kusgebied as eksplorasieputte te boor.
Mossel Bay Advertiser het verlede week berig oor die olieboor, DeapSea Stavanger wat reeds in Mosselbaai-waters is. Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van omgewingsake, sê dié gebied is onontbeerlik vir die mariene biodiversiteit aan die Suid-Afrikaanse kuslyn.
"Boonop is daar 'n beskermde mariene gebied net suid van die beoogde prospekteergebied."
AfriForum het verskeie vrae uiteengesit in sy kommentaar omdat die openbare deelnameproses in webinaar-formaat aangebied is en volgens AfriForum nie juis toeganklik was vir alle lede van die publiek nie.
Die Advertiser verneem dat beurtkrag tydens die vergadering plaasgevind het en dus meen AfriForum dat die proses uitgestel moet word tot dit meer toeganklik is vir alle lede van die gemeenskap en tot die Covid-19-pandemie verby is.
"Die vergadering was nie baie toeganklik nie omdat ek nie direk kon stellings maak of vrae vra nie. Verskeie lede van die gemeenskap wat betrokke wou raak kon ook uiteraard nie, omdat nie almal toegang tot die internet het nie," sê De Klerk.
"AfriForum is nie teen enige bestaande of beoogde mynaktiwiteite gekant nie, maar as beskermer van die omgewing is dit belangrik om aan alle prosesse en prosedures deel te neem om te verseker dat gemeenskappe en die land beskerm word," sluit De Klerk af.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'