GEORGE NUUS - Die Stigting Simon van der Stel Suid-Kaap reël tot vier uitstappies per jaar om lede van die publiek bewus te maak van die land se diverse kultuurerfenis en geskiedenis.
Twee keer per jaar is die uitstappies gewoonlik aan die kus se kant van die berge en andersins aan die noordekant van die Outeniquaberge.
Natie de Swardt van die stigting sê op Saterdag 17 Februarie vind een in George plaas. Die koste beloop R100 per persoon of R150 per paar. Dit sluit toegang tot die Tuinroete Botaniese Tuin in.
"Ons kom 09:00 vir 09:45 by die Presbiteriaanse kerk in Wellingtonstraat bymekaar. 'n Kort praatjie sal aangebied word om die geskiedkundige en argitektoniese agtergrond van George te skets, met aandag aan die geboue en gebeure.
"Wees gereed om te hoor wat die verband tussen die Koninklike Huis van Hanover en George is en hoe vleiloeries en zebras met mekaar in verband staan. Hoor ook hoe die eerste motor wat oor die Montagupas gegaan het, gehelp is deur 'n perd wie se eienaar baie naby aan Yorkstraat se huidige Spur gewoon het.
"Ons stap twee straatblokke suid op in Yorkstraat tot by Hiberniastraat terwyl die geskiedenis en argitektoniese stylkenmerke van geboue uitgewys word. Dan gaan ons terug na die Presbiteriaanse kerk (of waar deelnemers hul voertuie parkeer het), en ry na die Botaniese Tuin in Caledonstraat.
"In die Botaniese Tuin sal prof. Ryamond Auerbach ons by Burchell se standbeeld vertel van hierdie sonderlinge 19de eeuse botanis, skrywer en reisiger wat Suidelike Afrika van 1810 tot 1814 deurkruis en hierdie wêrelddeel se fauna en flora op die wêreldkaart gesit het."
Na die vertelling kan deelnemers wat piekniekmandjies en opvoustoele gebring het veilig piekniek hou in die tuin of by die Il Giardino Italiaanse Bistro en Restaurant in die tuin gaan eet. Alle lede van die publiek is genooi.
Belangstellendes kan vir Maryth Meise by 084 505 1071 of Natie de Swardt by 083 752 9340 skakel vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’