GEORGE NUUS - Toe die ma van die 5-jarige seuntjie wat verlede week doodgeskok het, naby haar huis kom, het sy eers al die noodvoertuie opgemerk en daarna haar seuntjie se lewelose liggaam.
"Ek was op pad terug huis toe nadat ons winkels toe was," het Nomhle Malgas, Liphuphalethu se ma, vertel.
"Ek het 'n vriendin gevra om hom op te pas terwyl ons weg was. Sy het ook 'n kind. Toe ons naby ons plek kom sien ek al die forensics in die pad, soveel mense. En toe sien ek my kind daar lê. Die skok. Ek kon nie verder nie, ek het flou geword."
Malgas het glo twee ure later wakker geword en na haar seun gevra, maar hy is reeds weggeneem. "Dit was te veel vir my, ek kon dit nie glo nie," het sy gesê.
Liphuphalethu het verlede Woensdag in sone 9 in Thembalethu doodgeskok nadat hy met sy kaal handjie om 'n lewendige elektriese draad wat om 'n paal gedraai was gevat het. Hy het saam met ander kinders in die area daardie middag gespeel.
Dié draad was een van baie onwettige koppelings wat dikwels deur inwoners in informele nedersettings vir huishoudelike gebruik gemaak word. Die draad is intussen verwyder.
Die plek waar die ongeluk in sone 9 (wyk 15) gebeur het, is 'n klein entjie weg van die plek waar die oorledene en sy gesin in wyk 12, New Valley, woon. Blykbaar was daar al voorheen 'n kind wat by daardie einste plek doodgeskok het.
Volgens Malgas het die mense in die area gesê hulle gaan nie weer die onwettige koppelings steun nie, want te veel kinders gaan dood.
"Die huis is so stil sonder hom, sy plekkie is so leeg. 'n Mens kon hom altyd hoor speel in die huis," het Malgas gesê. "Ons het hom Poppie genoem, want die Afrikaanse familie in Parkdene, van waar ons kom, kon nie die Xhosa-naam uitspreek nie. In Parkdene woon bruin en swart saam."
Nomhle Malgas, haar man, Mlulami Sikade en hul twee kinders, Liphuphalethu en sy suster Lithalethu ‘Anita’ (9) het sowat 'n jaar gelede van Parkdene na New Valley verhuis.
"Ons het probleme met behuising gehad, en getrek na 'n familielid van my man," het sy gesê. "Dit is moeilik, want ek het nie werk nie en my man werk net deeltyds. Die inwoners probeer nou om geld vir 'n begrafnis in te samel. Ons hoop om Poppie Saterdag te kan begrawe. Ons sal maar kyk of die geld reg is."
Hierdie onwettig gekoppelde draad het verlede week die lewe van ’n seuntjie geëis.
Saak en ondersoek
George-munisipaliteit het bevestig dat 'n geregtelike doodsondersoek deur die staat geopen is, en dat die munisipaliteit 'n saak by die polisie vir die beskadiging van infrastruktuur en diefstal aanhangig gemaak het.
Portefeuljeraadslid vir elektrotegniese dienste, Nosicelo Mbete, het gesê die departement is hartseer oor hierdie jongste voorval. "Die verlies van 'n jong lewe is so onnodig, ons kan nie die gevare verbonde aan onwettige verbindings oorbeklemtoon nie. Dit maak nie saak hoe klein of onskuldig dit lyk nie, sulke elektriese koppelings is onwettig en gevaarlik," het sy gesê.
"'n Operasie om onwettige verbindings te verwyder, het op 29 Maart vanjaar in dié spesifieke area plaasgevind. Sulke operasies word op 'n gereelde basis onderneem om gemeenskapsveiligheid te verhoog."
• Onwettige verbindings moet aangemeld word by 044 803 9222 of 044 801 9222 of na-ure by 044 801 6300. George-munisipaliteit bied 'n beloning aan vir inligting wat lei tot die suksesvolle skuldigbevinding van elektriese diefstal en/vandalisme in 'n geregshof. Die getuie sal op rekord na die owerhede moet gaan, sy/haar naam en kontakbesonderhede moet gee om te getuig, maar sy/haar identiteit sal beskerm word. Meld aan by 0860 044 044.
• George-munisipaliteit het R10,5-miljoen van sy eie fondse bewillig vir die elektrifisering van informele nedersettings, en hierdie projekte is goed op dreef, insluitend 'n proefprojek van elektrifisering van informele nedersettings wat hernubare energie gebruik.
Die voorval het in sone 9, Thembalethu, plaasgevind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’