WILDERNIS NUUS - Behuisingskwessies is die lont in die kruitvat wat gesorg het vir onlangse betogings in Kleinkrantz. 'n Tekort aan gesubsidieerde behuising (RDP- en Flisp-huise) en dienste soos toilette in die informele nedersetting vorm deel van die ongelukkigheid.
Boonop is nuwe eienaars van 'n klompie GAP-huise* glo besig om hul intrek in die woonbuurt te neem en dit maak diegene wat sonder huise sit, woedend.
Na die protesaksie verlede Donderdag by die ingang na Kleinkrantz langs die N2-snelweg is 'n memorandum van griewe aan 'n verteenwoordiger van George-munisipaliteit oorhandig.
"Intussen word die melk suur omdat ouens van Durban, Mpumalanga en Johannesburg GAP-huise gekry het. Ons wat al jare hier woon moet droëbek sit," het 'n inwoner gesê.
Na verlede week se protesaksie by die Kleinkrantz-ingang na die N2 is ses verdagtes in hegtenis geneem. Lede van die openbare orde polisie is vroegoggend ontbied en het vir 'n geruime tyd 'n wakende oog gehou.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder sers. Chris Spies, het bevestig dat 'n saak van openbare geweld ondersoek word. Die hoofpad na Kleinkrantz, Proteaweg, was besaai met bakstene en gemors.
Kleinkrantz is 'n klein gemeenskap enkele kilometers van Wilderness, tussen die N2-snelweg en die see.
Vergete
'n Inwoner van Kleinkrantz se plakkerskamp, wat self aan die betoging deelgeneem het, het gisteroggend aan George Herald gesê hulle wag tot volgende Donderdag vir terugvoer oor hul behuisingskwessies: "Ons voel ons is hier gelos en vergeet. Daar is geen kommunikasie nie.
"Ons het geen vooruitsig vir behuisings-projekte in Kleinkrantz nie. Erwe word opgedeel en verkoop aan mense van buite terwyl ons net kan toekyk. Ons spoeltoilette is nie almal gekoppel nie, gesinne deel een toilet. Ons mense sukkel, hulle verloor hoop."
Kleinkrantz-plakkerskamp staan bekend as 'Die Tiep' vir diegene wat nie daar woon nie. "Maar vir ons, wat hier bly, is dit Nature's Valley," het 'n inwoner gesê. "As jy praat van 'Die Tiep' mag jy dalk 'n blouoog kry!"
Klagtes
Direkteur van behuising, Charles Lubbe, het vandeesweek bevestig dat die memorandum op 17 Junie, dieselfde dag van die betoging, aan 'n lid van die munisipaliteit oorhandig is, en op 19 Junie deur die departement van behuising ontvang is. "Voor die ontvangs van die memorandum is geen formele klagtes rakende behuising van hierdie gemeenskap ontvang nie," het hy gesê.
Op 'n vraag wat mense te doen staan indien hulle klagtes wil rapporteer, het Lubbe die volgende geantwoord: "Volledige klagtes met naam en van, adresse en ID-nommers (indien moontlik) kan gerapporteer word aan die Direktoraat Menslike Nedersettings om die nodige ondersoeke te begin."
Vir hulp met aansoeke om behuising kan persone die afdeling, Bestaande Behuising, besoek om vas te stel of hulle op die waglys is en of hulle in aanmerking gaan kom vir die huidige behuisingsprojekte (Erf 325, Metro Gronde).
GAP-behuising: Geen subsidie word vir begunstigdes gegee nie. Indien aansoekers aan die kriteria voldoen wat hul inkomste betref, kan hulle aansoek doen vir 'n verbandlening. Aansoekers is nie gekoppel aan die bestaande Wes-Kaapse provinsiale behuisingsdatabasis nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'