Update
GEORGE NUUS - Nie eers die reën kon Dinsdag 4 Julie die geesdrif demp toe 'n paar skote met 'n replika van 'n 1730-kanon, by die ou tolhuis in die historiese Montagupas afgevuur is nie. Dit was sonder 'n projektiel.
'n Groot getal mense het nuuskierig nadergestaan toe Frikkie Conradie, 'n senior kanonnier van Kaapstad, omstreeks 11:00 die eerste skoot afgevuur het.
Streng veiligheidsmaatreëls is gevolg en onder die aanwesiges was ook verteenwoordigers van CapeNature Tuinroete en die DBV.
Conradie het eers verduidelik hoe werk die kanon. Terwyl sommige aanwesiges hulself beskut het teen die ligte reën, het die aftelling begin. En toe die oorverdowende slag. Mense het spontaan hande begin klap.
Daar is nog skote afgevuur. Een van die mense wat die geleentheid gekry het was Truida Oosthuizen. Sy is Conradie se suster en dit was Dinsdag haar 60ste verjaarsdag. Vir haar was dit 'n spesiale verjaarsdaggeskenk.
Enkele besoekers is ook toegelaat om teen R200 'n skoot af te vuur.
Frikkie Conradie verduidelik hoe werk die kanon.
Die geld sal teruggeploeg word vir die bevordering van die tolhuis. Die tolhuis is een van George se geskiedkundigste geboue en 'n groot toeriste-trekpleister.
Oosthuizen het na die geleentheid vertel sy het al voorheen so 'n skoot afgevuur. Dit was iets besonders om dit weer te doen. "Ek wou graag betrokke wees want ek wou Gerda (Stols van die Vriende van die Tolhuis) help."
Conradie het gesê hy het dit gedoen om die tolhuis te help. Hy is 'n voorstander van erfenis en dit lê hom na aan die hart.
Soms doen hy sulke afvure vir die Voortrekkerbeweging, en dan ook by spesiale geleenthede soos by troues en verjaarsdae.
Stols het gesê sy was oorweldig deur die reaksie en die groot getal mense wat opgedaag het.
"Dit was 'n groot sukses. Ons is dankbaar vir die inisiatief. Dit het die tolhuis weer op die voorgrond geplaas."
Aanwesiges by die afvuur van die kanon.
Barend le Roux van CapeNature Tuinroete, wat Dinsdag teenwoordig was, het gesê die instansie en die DBV het Maandagmiddag met die bestuur van die tolhuis vergader om hul te vergewis van die situasie. Dit het toe geblyk dat dit 'n miniatuur replika van 'n swart kruit kanon is wat deur 'n kanonentoesias afgevuur sou word.
Tydens Maandag se vergadering is gekyk na die moontlike impak soos geraassteuring en brandgevaar.
Salome Bruys, senior inspekteur DBV Tuinroete, het bevestig dat sy Maandag se vergadering bygewoon het om onder andere die moontlike geraasimpak te bespreek.
Aanwesiges by die afvuur van die kanon. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’