Kenners op die gebied van visvang kom gereeld by Locals in Milkwood Village, Wildernis bymekaar. Daar word die weervoorspelling bekyk, die golwe gemeet, die windspoed bepaal en so word daar dan ooreengekom waar die regte plek is om lyne nat te maak. Kaaimansrivier is egter nooit op die lys van gunsteling visvangplekke nie.
Van die gunstelingplekke sluit in Leentjiesklip, die treinbrug by Sedgefield, die ou poskantoor se afdraai na Sedgefield en die ou brug soos jy Knysna inry en links draai.
Talle van die gesoute hengelaars krap egter nou kop ná 'n yslike kabeljou ongeveer drie weke gelede 'n lyn opgetel het in die Kaaimansrivier. Meeste van die hengelaars aan wie die 45 minute stryd met die kabeljou wat weggekom het vertel word, lag dit af as maar net nog 'n vissermanstorie van iemand wat leë hande by die huis gekom het. "Daar is nie kabeljoue in die Kaaimansrivier nie," is gesê.
XTreme Fishing se welbekende oom Hennie Kleyn spreek egter 'n ander gevoel uit oor kabeljoue in Kaaimansrivier. "Daar is wél groot kabeljou in die Kaaimansrivier. Hy vertel van wyle dr. Tiens Stander wat altyd hierdie tyd van die jaar Kaaimans se grotes uitgetrek het. "Dr. Stander het geweet waar om te vang en dis ook nie verniet dat Stander se gat by Leentjiesklip na hom vernoem is nie."
Oom Hennie vertel hy het baie saam met dr. Stander gaan hengel. "Dit was veral by die mond van Kaaimansrivier waar ons die grotes uitgetrek het, maar dieper in is daar wel kabeljou en baie ander vis."
Groot reën het die afgelope naweek geval. Riviermondings soos die Touw- en Kaaimansrivier het behoorlik oopgespoel, so nuwe tegnieke en gunsteling hengelplekke is nou weer hoog op die agenda van besprekings.

Krom staan! Kort voor die kabeljou die stryd tussen hom en Christo Vermaak gewen het.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS