GEORGE NUUS - JP Reyneke, 'n gr. 4-leerder van Laerskool George-Suid, het 'n passie vir ouer persone. Hy het van die doppieprojek by Huis JJ Watson gehoor en was dadelik geïnspireer om daarmee te help.
Die koördineerder van die projek is Sarie Notley, 'n vrywilliger by die tehuis. Notley is al meer as ses jaar met die projek besig en ontvang doppies van omtrent regoor die land.
"Vir elke 450 kg doppies wat sy inkry kom sy vir 'n nuwe rolstoel in aanmerking wat sy dan aan verdienstelike organisasies uitdeel."
Huis JJ Watson het reeds twee rolstoele ontvang, vertel die bestuurder, Okert Stander.
JP het op 2 Oktober sy 32,5 kg doppies aan Notley oorhandig. Volgens hom het sy hele familie help doppies insamel. Sy ma Lindie, is sy grootste inspirasie en hy is reeds besig met sy volgende projek.
Indien daar nog kinders of volwassenes is wat met die projek wil help kan hulle gerus vir Notley skakel by 044 871 1915.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'