GEORGE NUUS - "Dit gaan al beter. Ek is net bly dat ek leef. Die Here was my genadig."
So het Jannie Stander, bekende boer van George, Maandag 9 Oktober gesê oor die skrikwekkende ongeluk waarin hy op 24 September betrokke was.
Jannie is die pa van CJ Stander, wat al naam gemaak het in die internasionale rugbyarena en Janneman Stander, kaptein van die SWD Arende. Hy en sy eggenoot, Amanda woon op 'n plaas net buite George.
Kyk mens na die voertuig waarin hy gery het, is dit sekerlik 'n wonderwerk dat hy nie dood is of baie ernstige beserings opgedoen het nie. Die bakkie is onherstelbaar beskadig en is afgeskryf.
Hy is na die ongeluk na 'n hospitaal geneem vir behandeling en later ontslaan.
Jannie het vertel dat hy die middag van die ongeluk op pad terug was na sy plaas. Dit was so 15:30 en dit het gereën.
Die pad was nat en hy was alleen in die bakkie. Dit het gegly en hy het beheer oor die voertuig verloor.
Dit het in die loop van die rivier sowat 2 km van sy huis beland en drie keer gerol.
Hy het sedertdien al weer agter die stuurwiel van 'n voertuig ingeskuif en werk weer. "Ek is nie iemand wat kan stilstaan nie."
Jannie Stander se voertuig na die ongeluk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’