GEORGE NUUS - Plakkate van politieke partye wat teen Woensdag nog op lamppale en ander plekke in die George munisipale gebied gehang het, is onwettig.
Nadat die verkiesing verlede Woensdag afgehandel is, het politieke partye vier weeksdae gehad om dit verwyder.
Teen Maandagoggend was politieke partye druk besig om plakkate af te haal.
Indien partye versuim om die plakkate te verwyder, verbeur hulle die deposito of 'n gedeelte daarvan, afhangende van die koste verbonde aan die verwydering daarvan.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê indien mense êrens nog plakkate sien, word hulle gevra om die DA te laat weet.
Darryll Sauer, ANC-voorsitter in George, het sy onderneming gegee dat al die ANC-plakkate teen Woensdag af sou wees.
Johan du Toit van die ACDP, het gesê teen Sondag was al die partye se plakkate af.
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus het gesê teen Maandag is die laaste plakkate van die party afgehaal.
Virgill Gericke van die PBI het gesê hulle het ook begin afhaal.
Langa Langa, 'n ANC-stadsraadslid, haal Maandag 'n plakkaat in Thembalethu af.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'