Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Wortels, pampoene, blomkool en selfs rugby was op die ‘gesels-spyskaart’ toe Ierse boere en landbouleiers die Suid-Kaap besoek het. Die groep van 42 het kom kyk wat hulle van Suid-Afrikaanse landbou kan leer.
Dit kon nie anders dat daar ook rugby gesels is, want een van die plase wat hulle besoek het, was naby George waar Jannie Stander boer. Stander is die pa van CJ Stander wat deesdae een van Ierland se toprugbyspelers is. Tydens die besoek was dit gou duidelik dat CJ groot aanhang in Ierland het. Die Iere het sommer prontuit gesê hulle kan nie glo dat Suid-Afrikaanse rugby 'n speler van Stander se kaliber kon laat gaan nie.
Tong in die kies het hulle bygevoeg: "Julle gaan hom nie terug kry nie."
'n Soortgelyke groep Ierse boere en landbouleiers het in die verlede ook die Suid-Kaap besoek.
Pierre Maassen, Suid-Afrikaanse toergids, wat saam met die jongste groep gereis het, het gesê die meerderheid is melkboere. Hulle is hier om te kyk wat hulle kan leer, veral op melkplase.
Kort na die aankoms van die groep op Stander se plaas, is hulle 'n oorsig gegee van hoe groente in die gebied verbou word en aan wie dit verkoop word.
Stander het gesê hy het al Ierland besoek. "Dit is 'n wonderlike land en mense. Ek hou baie van julle bier," het hy onder groot gelag vertel.
Hy het verwys na sy twee seuns, Janneman wat vir die SWD/Arende rugby speel en CJ wat vir Ierland uitdraf. "Sommige van julle ken hom (CJ). CJ is baie gelukkig in Ierland. Hy het 'n huis daar gekoop."
Volgens Jannie kan hy nie Ierland so gereeld besoek om te kyk hoe CJ daar rugby speel nie, want die boerdery hou hom besig.
Kyk 'n video hieronder.
Jannie Stander wys aan die Ierse landbouleiers en boere van die plantjies wat geplant word. Foto's: Eugene Gunning
Hy het toe verduidelik hoe funksioneer landbou in Suid-Afrika en daarop gewys dat een van die duurste produksiefaktore is lone. Dan is daar oor faktore soos die koste van chemiese stowwe, diesel en elektrisiteit.
In vraetyd wou die Iere onder meer weet oor lone vir plaaswerkers en waar hulle woon.
Hierna is die groep op die plaas rondgewys en hulle het eerstehands gesien hoe groenteplantjies geplant word.
Die besoek is afgesluit met Suid-Afrikaanse braaivleis en binne die plaashuis het die besoekers hulle verwonder aan rugbyfoto's en aandenkings van CJ toe hy nog in Suid-Afrika rugby gespeel het.
Jack Murphy, woordvoerder van die groep, het aan die George Herald gesê daar is baie melkplase in Ierland. "Ons kan leer by Suid-Afrikaanse boere. Ons is beïndruk met julle mooi land en die skaal van groenteboerdery."
Die plase in Suid-Afrika is baie groter as in Ierland.
Die groep Ierse landbouleiers en boere saam met Jannie Stander op sy plaas, naby George. Foto: Eugene Gunning
Volgens hom is CJ en sy eggenoot, Jean-Marié, baie gewild in Ierland. CJ dra die groen trui van Ierland net soos enige Ier met trots. Hy is op meriete in die span en een van die land se sleutelspelers.
Hy het geen twyfel dat CJ Ierland aanstaande jaar sal verteenwoordig tydens die Wêreldbeker in Japan nie. "Hy sal in die span wees wat hopelik die Wêreldbeker vir Ierland sal wen. "Dit was 'n voorreg om die plaas te besoek en die huis te sien waarin CJ grootgeword het."
Jannie het gesê die Iere kan leer by Suid-Afrikaanse landbou. By hulle is dinge baie meganies, terwyl hier met die hand geplant en geoes word.
Tydens die besoek is baie rugby gepraat. Jannie se lojaliteit is by Ierland. "My seun is daar en ek gaan die Wêreldbeker in Japan bywoon. Rugby is groot in die huis."
Wat hom betref gaan dit uiteindelik tussen Skotland en Ierland wees om te bepaal wie die Wêreldbeker huis toe neem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'