GEORGE NUUS - Solidariteit Helpende Hand se George-tak is steeds in die wolke na 'n baie suksesvolle Kersmark vir Huis JJ Watson, wat die eensaamheid van bejaardes wou aanspreek.
Die mark is verlede Saterdag met die hulp van die gemeenskap en plaaslike kunstenaars aangebied. Tashia se sangskool en die bekende plaaslike sanger Michael Lindt het gaste by die geleentheid vermaak.
Laerskool Harold het ook tydens die Kersmark 'n geleentheid gekry om 'n fondsinsameling vir hul eie skoolvervoer te hou, met die verkoop van pannekoek en poedings.
Inwoners van JJ Watson het die dag terdeë geniet - selfs die senior inwoners wat onder dak moes bly kon deel hê aan die fees deur die musiek deur hul vensters te hoor.
"Die doel van die Kersmark was om lekker saam met die bejaardes te kuier, en moontlik nuwe lede vir Solidariteit Helpende Hand te werf," het areabestuurder, Marlise Labuschagne, gesê.
Lede van Solidariteit Helpende Hand se George-tak in 'n feestelike bui tydens die Kersmark. Van links is Marilise Labuschagne, Charmaine Boshoff, Francois Stassen, Lize-Mari Stassen, Devi du Plessis, Ursula Stassen, Johanda de Bruyn en Lizette Munro.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'