Gallery
GEORGE NEWS - Hoërskool George het in 2023 groot uitdagings oorkom met die hulp van verskeie rolspelers uit die gemeenskap wat bygedra het tot 'n 9% verbetering in die skool se slaagsyfer tot 82%.
Die hoof, Rodney Cupido, het gesê toe hy 'n jaar gelede by die skool aangestel is, was daar groot druk om 2022 se 74%-slaagsyfer te verbeter. Die skool het altyd 'n syfer van bo 80% gehad, maar dit het in 2022 geval.
Hy is dankbaar vir die verbetering en het gesê die skool is ook trots op 'n slaagsyfer van 100% in Engels Addisionele Taal en Afrikaans Huistaal, asook 10 onderskeidings in Engels en een in Afrikaans.
Onder Cupido se leiding is verskeie ingrypings bewerkstellig om onderwysers en matrikulante by te staan. Benewens die ondersteuning van vakadviseurs van die onderwysdistrikskantoor het die skool ook gebruik gemaak van 'n ondersteuningskomponent van die departement wat gefokus is op die geestestoestand van kinders.
Motiveringspraatjies is gehou en leerders het baie aanmoediging ontvang.
"Nie-regeringsorganisasies soos Options het oor tienerswangerskappe kom praat en met die leerders wat reeds mammas is, geskakel en hulp aangebied.
"Die skoolbeheerliggaam (SBL) het toestemming verleen dat leerders wat moeilike omstandighede het, ook ondersteun word. Hier het 'n hostelwerker aangebied om te help en die rol van 'n moederfigur ingeneem wat die leerders gemotiveer en hulle geloof versterk het.
"Sy het toebroodjies gemaak en saans in studietyd by hulle gesit. Daar was ook kinders wat selfmoord wou pleeg weens die druk om te presteer. Die SBL het 'n groot rol gespeel deur toestemming te gee dat hulle berading kry."
FOTOGALERY: Hoërskool George behaal 82%-slaagsyfer
Die skool het ook kartaallikse vergaderings met ouers gehou om uitslae met hulle te bespreek en raad gegee oor hoe hulle hul kinders kon ondersteun. Die George-munisipaliteit het skryfbehoeftes vir die leerders vir die einde van die jaar geskenk wat die leerders gehelp en druk op ouers verlig het. Die munisipaliteit het ook 'n motiveringspraatjie gehou.
Ander skole het ook hulp aangebied deur van hul onderwysers vir ekstra klasse beskikbaar te stel as deel van uitruilprogramme.
"Die afgetrede David Sampson wat pas oorlede is, het ook kom help met die verbetering van koshuistoestande, advisering oor verskeie aspekte soos hoe om konflik te hanteer en wie ons kon inkry om met leerders te praat. Afgetrede onderwysers het leerders kom moed inpraat, en so ook kerkleiers soos pastoor Allan Spies.
"Dit was werklik 'n poging van die hele gemeenskap om ons kinders te kom oplig en 'n hoër baken te stel," het Cupido gesê.
Rehabilitasiesentrum
Die skool het ook saamgewerk met 'n rehabilitasiesentrum om van die kinders wat aan dagga verslaaf was, te help.
"Twee dogters se ouers het vir ons kom dankie sê dat ons hulle kinders nie geskors het nie, maar hulle gehelp het om matriek suksesvol te voltooi. Ons moes ook bendes oorkom, maar kerke het vir ons gebid en was beskikbaar vir berading van ons leerders."
Een matrikulant se hande is ernstig in 'n aanval beseer en hy kon nie sy matriek klaarmaak nie.
Op die koop toe, is 'n klompie jong onderwysers aangestel wat ouer onderwysers wat afgetree het, vervang het. Die onervare onderwysers moes leer om aan te pas by die leerders.
"Asof dit nie genoeg was nie, het 'n onderwyser op siekverlof gegaan en ander moes uitruil om die matrieks te onderrig.
"Ons het werklik 'n rowwe jaar gehad en is dankbaar vir al die ondersteuning wat ons gehelp het om hierdie verbetering te bewerkstellig."
Eden en Sentraal-Karoo se onderwysdirekteur Jewel Jonkers (links agter) en Hoërskool George se hoof, Rodney Cupido, is saam verheug oor die skool se topmatrikulante van 2023. Hulle is, van links, voor: Farrell Hector, Jostin Daniels, topleerder Schanique Buys, Charl Fisher en Robyn Piedt. Agter: Jaydon Baron, Ester Coetzee, Shainice Bouers, Andrea Pylman en Joylynn Motha.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’