Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Stamleiers van die afstammelinge van die !Gori, die !Uris oftewel Koeries-familie, is amptelik op 9 en 10 Desember verlede jaar tydens 'n geskiedkundige geleentheid in Pacaltsdorp (Hoogekraal) en Mosselbaai ingehuldig.
Dit is in hierdie areas waar hulle volgens geskiedkundige en geografiese navorsing voor 1488 gevestig was.
Hierdie is die begin van nuwe geskiedenis vir die Kai !Korana Nasie, altesaam 534 jaar, 10 maande en agt dae na die aankoms van Bartolomeu Dias.
Vanjaar op Vrydag 3 Februarie is die !Uris Kai !Korana oftewel die Koeries-familie as koninklike huis amptelik erkenning gegee in die Dias-museum. Wat noemenswaardig is omtrent hierdie geleentheid is die feit dat die geleentheid die viering was van die Dias-museum se bestaan in Mosselbaai.
Die museum, wat die aankoms van Bartolomeu Dias lewendig hou, verteenwoordig tot ‘n mate ook die onderdrukking en ontkenning van die regte van die ‘Eerste Nasie. Die ‘JouNou Arts and Culture Organization’ het die behoefte vir verandering met ‘protesteater’ in die vorm van ‘n passievolle drama-uitvoering aangekondig.
Die Koeries !Uris Koninklike Huis vertrou dat die verhouding met die museum vorentoe betekenisvol en met wedersydse respek en aanvaarding gebou kan word.
VERSKAFDE VIDEO: Herlewing van die Kai !Korana !Gori Ais
Historiese oorsig
Die stam van !Gori is een van die oudste bestaande stamme in Suidelike Afrika en dateer van voor 1488. Volgens oorlede Danab-stamhoof, dr. Richard J. Kutela, strek hul grondgebied vanaf Swellendam tot by Plettenbergbaai. Die beeste van hierdie stam het ook oor hierdie breë area gewei.
Die grootste konsentrasie of beeskraal was by Hoogekraal, wat vandag as Pacaltsdorp bekendstaan. Daarom was die naam !Urimais, wat beteken hoogstaande stam of Hoogekraal.
Nog ‘n veekraal was by Plettenbergbaai gevestig en dit was bekend as /Nami !Urimais wat beteken Klein Hoogekraal.
Volgens geografiese en geskiedkundige navorsing het die !Gori vanaf die Kaap migreer na die Suid Kaap. Wat noemenswaardig is, is die feit dat hulle die /Xam Boesmans hier aangetref het.
As gevolg van die onvermoë van die Europeërs om die ‘kliek’ geluid uit te spreek, het Bartolomeu Dias verkeerdelik verwys na hulle as die ‘Gouriquas’ in plaas van die !Gori Ais Stam wat hy hier aangetref het.
Die Koeries-familie is die oudste lewende afstammelinge van die !Gori van 1488. Die van is afgelei van die !Goragowab woord ‘!Uris’ wat beteken ‘Die hoë een’.
Die Koeries-naam word ook genoem in die oudste rekord boeke van die sendingstasie wat in 1814 by Pacaltsdorp gevestig was, en wel deur die sendeling, Carl Pacalts. Hy noem dit ook onder die opskrif ‘!Urimais’ wat verskyn op die register.
Wat is anders omtrent hierdie herlewing?
Daar was oor die afgelope jare heelwat oplewings van Khoi en Boesman groepe. Wat die Koeries-familie verskillend maak is:
• Hulle familienavorsing en selfs die inhuldiging is deur ouderlinge van die Boesmans, die Sabaim, gedoen. Hierdie ouderlinge het die familie genader om hul stam te vestig, nie andersom nie.
• Hul hooffokus is nie om grond en moontlike (fondse uit Engeland) te kry nie.
• Hul hooffokus is om hul identiteit as Kai !Korana te vestig en nasionaal erkenning te kry. (internasionale erkenning is reeds gegee deur die ‘Indigenous and Tribal People’s Convention 1989 (No. 169) – shortform ILO Convention No. 169.
• Hul langtermyn strewe is om alle inheemse mense in die Suid-Kaap te verenig sodat almal gelyke voordeel kan kry as ‘Eerste nasie’. Die nasionale erkenning was tot nou toe vertraag as gevolg van klein individuele groepe wat alleen probeer.
Artikel verskaf deur Angelique Stevens, hoofsekretaris van die !Gori||Ais Tribe, Koeries Family Council, !UriM||Ais - Hoogekraal, Kai !Korana - Great Korana.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'