GEORGE NUUS - Carpe Diem Skool se Ukuwela-program om leerders vir werksgeleenthede voor te berei, gaan van krag tot krag en 'n beroep word op die sakegemeenskap regoor die streek gedoen om betrokke te raak.
Die program het verlede Woensdag, 6 September, ter sprake gekom tydens 'n geleentheid waar die skool die gemeenskap bedank het vir die groot rol wat hulle in die skool speel.
Sedert die begin van die program in 2017, is 42 leerlinge al gehelp om werk te kry. Altesaam 75% van hulle het hul werk vir minstens 'n jaar behou.
Tydens die geleentheid is benadruk dat, sonder die ondersteuning van die gemeenskap, die leerlinge se drome nie kan waar word nie. Daar is leerlinge tussen die ouderdomme van ses en 18 jaar met alle gestremdhede behalwe siggestremdhede.
Skoolhoof Elzeth Grobler en die hoof van die program, arbeids-terapeut Suzanne Stark, sê met die program word geslyp aan die senior leerders se vaardighede om hulle in staat te stel om eendag die arbeidsmark te betree.
Grobler en Stark sê die behoefte is destyds geïdentifiseer en baie van die ouers is dankbaar vir die rol wat die skool in die leerlinge se lewens speel tydens hul skoolloopbane. Die vraag wat egter dikwels gevra word is: "Wat nou dat hulle klaar is met skool?"
Johannes Jumat en Christine Dekker het ook die geleentheid bygewoon.
Stark het gesê die leerlinge kan en wil werk. Die program berei hulle voor vir die wêreld van werk. Hulle word deur onderwysers vaardighede geleer in rigtings soos die gasvryheidsbedryf, kuns en kunsvlyt, rekenaarvaardighede, skoonheidsorg vir die dogters, landbou vir die seuns en instandhoudings-werk vir die seuns. Van die leerlinge kan byvoorbeeld later help om kinders op te pas.
Wanneer hulle die skool verlaat word hulle genomineer vir die werkskomponent van die program. Dis egter nie net vir instap nie; leerlinge moet aan bepaalde vereistes voldoen. Daar word onder meer gekyk na skoolbywoning. Elke individu word geëvalueer om hul vaardighede, belangstellingsveld en aanleg te bepaal.
Daar word gepoog om werk vir hulle te kry in die gebiede waar hulle woon - 'n uitdaging as mens in gedagte hou dat Carpe Diem se leerlinge van regoor die streek kom.
Daar word ook gepoog om te bepaal watter bydrae 'n individu kan lewer by 'n bepaalde sakeonderneming en hulle word geplaas by die ondernemings wat daarop inkoop.
Carpe Diem steun die leerlinge en werkgewers vir 'n jaar met onder andere advies, vervoer en selfoontoelae vir die eerste maand. Die skool onttrek geleidelik tot die nuwe werknemer uiteindelik op sy/haar voete kan staan.
Grobler en Stark is dit eens dat die program baie suksesvol is, maar sal graag wil sien dat meer ondernemings betrokke raak. Dit het voordele na beide kante. Hulle is baie dankaar vir ondernemings wat reeds betrokke is.
Hulle sê dat sommige van die kinders die enigste broodwinners in hul gesinne is en dat hierdie opleiding hulle dus help om kop bo water te hou.
Aanwesiges het elkeen 'n dankiesê kaartjie ontvang wat deur die leerlinge self gemaak is.
Van die gaste wat die geleentheid bygewoon het. Foto's: Eugene Gunning
Mense wat belangstel om betrokke te raak kan kontak by 044/8744074 en e-pos: ukuwelaprogram@gmail.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’