GEORGE NUUS - 'n Projek van etlike miljoen rand is besig om vorm aan te neem op die perseel van die geskiedkundige Hawthorndene Hotel in Heatherlands.
Die ouer garde onder George se inwoners sal waarskynlik Sondae se rojale buffetetes in die eetsaal onthou, of die smaaklike ligte middagetes in die gewilde kroegie van die ou hotel.
Dit is die voorneme van die nuwe eienaars, Andries en Vanessa Troskie, om weer die gereelde voetval van gaste terug te bring na hierdie bekende baken.
Troskie, wat hom sewe jaar gelede van Rustenburg af in Oubaai kom vestig het, het die eiendom in 2017 per veiling gekoop en omskep dit nou in 'n boetiekhotel. Die gebou beslaan 4 000 m² van die 10 000 m² grond.
Die hotel het vir etlike jare verlate gestaan en verval terwyl 'n likwidateur van die voormalige eienaars, Natserve Developments (Pty) Ltd en Pluscor Six (Pty) Ltd, met die deposito's van voornemende kopers verdwyn het.
Terwyl dié drama hom afgespeel het, het die gebou deurgeloop onder onwettige bewoners en dwelmslawe wat vermoedelik ook verantwoordelik was vir 'n brand wat die hotel in 2016 erg beskadig het.
Na die brand in 2016. Foto: Pauline Lourens
Mazars en KPMG het as likwidateurs ingetree en die verkoop van die plek kon uiteindelik gefinaliseer word. Troskie se bod van R4,7 miljoen was die hoogste.
"My planne vir opgradering is die eerste jaar en 'n half vertraag deur pogings om die onwettige bewoners af te sit. Toe het Covid-19 ons getref en groot onsekerheid meegebring in wat maar 'n moeilike bedryf is.
"Die sowat 30 deeltitels wat gekonsolideer moet word, sloer nou ook al drie jaar by die munisipaliteit en is nog nie afgehandel nie. Die verbeterings begin egter nou stadig maar seker vorm aanneem en binne die volgende week of twee behoort kontrakteurs grootskaals te begin werk," sê Troskie.
Vandale het vrye toegang tot die hotel gehad en die brand het tot die skade bygedra. Foto: Pauline Lourens
Restourasie en afwerkings het stadigaan begin. Heel eerste is 'n imposante nuwe ingang aangebou om die plek te beveilig. Binne, naby die portaal, word 'n wynsitkamer en kroeg met 'n kelder geskep.
Die ou eetsaal sal die hotel se ontbytkamer wees. Daar is ook 'n raadsaal en whiskey-kamer in die ou gedeelte wat verder twee groot wittebroodsuites sal huisves wat op die tuin en swembad sal uitkyk.
Antieke meubels wat deel was van die ou hotel, gaan hul plekke weer inneem. Die houttrap en -vloere wat plek-plek erg beskadig is, word gerestoureer of, waar dit nie anders kan nie, geteël. Waar moontlik word oorspronklike hout herwin en hergebruik.
Een van die smaakvolle kamers in die nuwe gedeelte is halfpad klaar, maar Troskie vra dat foto's nie nou geneem word nie.
Hierdie kamers aan die noordoostekant bied 'n mooi uitsig oor 'n dennewoud wat in die toekoms moontlik vir trou-onthale gebruik sal word.
"Die eerste fase van die ontwikkeling sal 28 kamers bevat waarvan die twee luukse wittebroodsuites deel vorm. Die woonstelblok, wat vir lank onwettig beset is, sal in die tweede fase opgegradeer word om nog 15 kamers te voorsien. Ons mik om volgende jaar in Junie te open," sê Troskie.
'n Nuwe toegangshek word direk van Hawthorndenestraat af geskep en die ou ingang permanent gesluit.
Die argitek op die projek is Martin Palin van Palin en Smit Argitekte van Pretoria. Yvonne Piet doen die interieur.
Die restourasie van die trap is byna voltooi. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'