GEORGE NUUS - Daar is groot onsekerheid en kommer oor die impak van die regering se voorgestelde Maatskaplike Sekerheidsfonds (NSSF) wat vervat is in die Groenskrif op Maatskaplike Sekuriteit en Aftreehervormings soos onlangs gepubliseer deur die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu.
Dié sentraal bestuurde, openbare fonds sal aftreevoordele aan Suid-Afrikaners voorsien en onder meer ook werkloosheids- en ongeskiktheidstoelae uitbetaal.
Alle werkgewers en werknemers sal verplig wees om tussen 8% en 12% van hul inkomste (tot en met 'n plafon van R276 000 per jaar) by te dra. Mense wat minder as R22 320 per jaar verdien sal nie hoef by te dra nie.
Die groenskrif stel voor dat alle afhanklike kinders, ongeskikte persone en senior burgers asook mense van werkende ouderdom in aanmerking moet kom vir inkomsteondersteuning.
Dr Willie Cilliers, voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi), sê een van die vrese wat mense koester, is die regering se wanbestuur van openbare fondse.
"Die regering kan nie vertrou word om so 'n fonds saam te stel en te administreer nie. Gaan ons op hoogte gehou word van hoe ons pensioenbelegging groei? Wat is die belastingimplikasies - sal bydraers steeds belastingverligting kry op hul premiebydraes?"
Cilliers sê 'n mens sal nooit seker wees van jou pensioen nie, veral met 'n regering wat voortdurend dreig om staatsdienswerknemers se pensioenfonds te gebruik om Eskom se skuld te delg of semistaatsentiteite soos SA Lugdiens te red.
"Verder kan die verpligte bydrae tot 'n staatsbeheerde fonds daartoe lei dat persone wat reeds bydra tot 'n privaat pensioenfonds dit sal kanselleer. Dit kan 'n enorme impak op die mark en privaatfondse hê."
Die groenskrif spreek verskeie maatskap-like sekerheidskwessies aan waaronder die huidige basiese inkomstetoelae, die verpligte aftree-, doods- en ongeskiktheidsversekeringsfonds vir alle werkers, en die uitbreiding van die maatskaplike sekerheidstoelae.
Volgens die groenskrif word tans geen voorsiening gemaak vir mense tussen 18 en 59 jaar wat weens die hoë werkloosheidskoers sonder 'n inkomste sit nie en terselfdertyd nie vir 'n maatskaplike toelaag kwalifiseer nie. Die fonds wil hierdie gaping vul en verder ook voorsiening maak vir miljoene werkers wat nie behoorlik gedek is vir aftree-, ongeskiktheids- of afhanklikheidsvoordele nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'