Die feestelike verrigtinge is op gepaste wyse deur die waarnemende burgemeester, rdl. Lionel Esau, geopen.
Hy het sy seënwense oor die dorp uitgespreek en gesê hy hoop die dorp se toekoms sal vir die volgende eeu baie blink wees. "Die dorp se geskiedenis het nie stiptelik op 1811 begin nie, aangesien die inheemse bevolking soos die Khoisan waarna die berge vernoem is, toe reeds hier gewoon het," het hy ook genoem.
In vrolike luim en geklee in ‘n kleurvolle hemp, het Esau gesê daar is nog gedurende die res van die jaar heelwat feesverrigtinge om na uit te sien. Een hiervan is die bofbaltoernooi in Junie.
Die res van Saterdag se feesprogram wat op die gronde van Hoërskool Outeniqua plaasgevind het, is in ‘n groot mate deur reën in die wiele gery. Die skoonheidskompetisie is in sagte reënweer voortgesit, maar die deelnemers aan die Mej. George 200, Mej. George 200 Tiener en Mnr. George 200 het die kompetisies dapper enduit gesien.
Volgens George Herald-verslaggewer LeeAnne Pratt wat as beoordelaar opgetree het, het deelnemers moedig aanhou glimlag ten spyte van die nat hare en grimering wat loop.
Desiree Calitz, optogkoördineerder, het gesê die vlotte van die DBV, NMMU-studente, St Pauls-kerk, die Voortrekkers asook die George Herald was van die mooistes in die parade. Sy het die orkeste van die Wes-Kaapse Provinsiale Polisie, die St Albanskerk en die Boys Brigade bedank vir hulle onontbeerlike musikale bydrae. Gemeenskappe soos die Jonkersberg-bosbougemeenskap wat al die pad van buite die dorp gekom het, is spesiaal bedank vir hulle teenwoordigheid. Bedankings het ook gegaan aan die Real-start-span wat die George 200-vlot gebou het, Stanmar Motors vir die vervoer van die skoonheidskompetisie-deelnemers en Claude Pretorius wat as seremoniemeester opgetree het. Die PDSA-optogangers wat met hulle troeteldiere gestap het, is ook genoem vir hulle sportiewe deelname.
 (Small).jpg)
Die George 200-optog het die nodige glans gehad met skoonhede soos Petro Rossouw (regs) en Vanessa Nichols wat in Stanmar se motors gery het.
ARTIKEL EN FOTO'S: PAULINE LOURENS
Nog foto's hier.