GEORGE NUUS - Pacaltsdorp Primêr was Maandagoggend, 5 September, in rep en roer nadat een van die skool se leerders met 'n gaspistool by die skool opgedaag het.
Volgens 'n bekommerde ouer is die pistool op 'n medeleerder gerig, wat deur die voorval getraumatiseer is.
Millicent Merton van die Wes-Kaapse departement van onderwys het die voorval bevestig en gesê 'n personeellid het voor die aanvang van skool 'n gebreekte gaspistool by 'n leerder afgeneem.
"Die leerder het blykbaar met die wapen gespeel en leerders het die personeellid gaan roep. Die wapen is by die kantoor ingehandig. Dit is later deur die polisie verwyder," het Merton gesê.
"Die wapen behoort aan die leerder se oom en sy ouer was blykbaar nie bewus dat die leerder dit skool toe gevat het nie. Die voorval is aan die kringbestuurder, die skoolmaatskaplike werker en Veilige Skole gerapporteer."
Ook Shireen Noble het namens die skool se beheerliggaam bevestig dat die saak by al bogenoemde instansies, insluitend die polisie, aangemeld is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'