MOSSELBAAI NUUS - Dit was inderdaad en opnuut 'n opwindende paar dae in die lewe van Ampie Reinecke (80), wat sy ouderdom en gesondheid ten spyt, met alle ywer die stryd teen kanker voer, nie net persoonlik as 'n kankerlyer nie, maar juis vir die talle kinders wat deur hierdie siekte geraak word.
Ampie het Saterdag, 29 Junie, hierdie keer amptelik as lid van Mossel Bay Skydive, 'n fondinsamelingsgeleentheid aangepak as deel van 'n projek wat hy Skydive Kiddies Cancer Drive noem.
Hy het in November verlede jaar sy hartewens vervul deur die vir eerste keer in 51 jaar weer valskerm te spring.
Sy oogmerk tóé reeds was om kankerbewusmaking te doen. Vanjaar het hy deur hierdie projek, amptelik ondersteun deur Kansa, behoorlik die daad by die woord gevoeg. Die projek is daargestel om alle kinders wat op een of ander manier deur kanker geraak word, te ondersteun.
'n Filmspan van die kykNET-program, Kwêla was ook by die Mosselbaai-vliegveld om met Ampie en van die ander deelnemers te gesels. "Die span was uiters, man meer as professioneel," het Ampie baie in sy skik vertel. Hy het ook net met die grootste lof gepraat van Mossel Bay Skydive se span en hoe hulle die inisiatief ondersteun het.
"Ek is baie dankbaar teenoor my borge, Motocare in Voorbaai, wat hierdie sprong Saterdag moontlik gemaak het."
Ampie en sy vrou, Dot was gister, 1 Julie 59 jaar getroud. Hy het op haar versoek in die jare sestig ophou valskermspring.
Enige persoon wat 'n bydrae tot die Skydive Kiddies Cancer Drive wil lewer, kan 'n inbetaling doen by: Kankervereniging van Suid-Afrika NPO, Absabank Rek # 9062416313, bankkode 632005, verwysing: KIDDIE'S CANCER DRIVE
Ampie en sy vrou Dot, saam met die Motocare-span wat sy sprong Saterdag geborg het.
Lede van By Grace privaat amblansdiens ondersoek Ampie voor die groot sprong.
Juan Barnard van By Grace privaat ambulansdiens neem Ampie se bloeddruk voor die sprong.
Lees 'n verwante artikel hier: Valskermspringer (80) se projek kry hupstoot
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'