GEORGE NUUS - Sy bord staan leeg langs sy susters en sy broer s'n. Jadrian was my alles en hy is te vinnig van ons af weggevat. Só sê Francisca Jacobs, die gebroke ma van die 19-jarige Jadrian Jacobs wat op Sondag 1 Oktober in Courtenaystraat doodgery is.
Jacobs was op pad huis toe ná 'n aand uit saam met vriende toe hy deur 'n wit VW Golf voor Hoërskool Outeniqua in Courtenaystraat doodgery is. Sy familie wag steeds dat die bestuurder in hegtenis geneem moet word.
Hoewel sy van die toneel af weggery het, het Christin Botha se motor se nommerplaat op die toneel agtergebly. Die polisie het die beskadigde voertuig by die haar ouerhuis in Proteapark opgespoor en gekonfiskeer. Sy is daarna hospitaal toe geneem waar haar bloed getrek is.
Botha, wat vroeër in 'n artikel deur Rapport erken het dat sy agter die stuur van die Golf was, het gesê sy het egter nie van die toneel af weggejaag soos mense haar op sosiale media beskuldig het nie - sy het net weggery.
In 'n kort WhatsApp gesprek met George Herald vandeesweek het Botha gesê sy wil nie in hierdie stadium uitbrei op enigiets rondom die voorval nie omdat die saak sub judice is.
Sy moes sedert die voorval glo haar sosiale media blaaie sluit weens teistering en dreigemente vanaf die publiek.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het bevestig dat niemand nog op enige aanklagte in hegtenis geneem is nie.
"George-speurders ondersoek 'n saak van strafbare manslag na die dood van die slagoffer. Hierdie aangeleentheid vorm egter deel van 'n polisie-ondersoek en inligting rakende die vordering van die ondersoek kan nie in hierdie stadium bekendgemaak word nie," het Spies gesê.
Vriende en familie van Jadrian Jacobs tydens 'n roudiens op die plek waar hy op 1 Oktober oorlede is.
Die roudiens
'n Roudiens ter nagedagtenis aan Jadrian Jacobs (19) is onlangs gehou op die sypaadjie voor Hoërskool Outeniqua waar hy sy lewe verloor het.
Maar hoewel haar vriende en familie haar ondersteun deur hierdie moeilike tyd, sal geen woorde of goeie gebare die leemte in Jacobs se hart kan vul nie. Die daaglikse hartseer en verlange is die realiteit waarmee sy moet saamleef en geen hoeveelheid trane kan hom terugbring nie. Al waarvoor sy hoop is dat geregtigheid sal seëvier.
"Dit maak my so seer om oor my kind se dood te praat en om nie justice vir hom te kry nie maak als nog erger. Die vrou wat my kind doodgery het, het dan erken sy het dit gedoen. Hoekom is sy nie daardie aand in hegtenis geneem nie? Ek voel die gereg fail ons, en hom. Ek het soveel vrae al gevra wat glad nie beantwoord word nie, en ek gaan dit nie hier los nie. Sy dood word toegesmeer, maar ek glo die Here sal by my staan deur alles," sê Jacobs.
'n Vriend van Jacobs, Ryan van Wyk, is vuurwarm onder die kraag en glo geensins dat die polisie op die toneel die saak reg hanteer het nie.
"Hoekom het die polisie haar nie onmiddellik na die ongeluk in hegtenis geneem soos in ander gevalle nie? Hoekom moes hulle haar daarna eers hospitaal toe vat en vir vier ure ná die ongeluk vir bloedtoetse hou? Wat is die prosedure as jy iemand doodry en wegry van die toneel af? Het hulle nie daai opleiding in die polisiekollege gehad nie?" het hy onlangs op 'n Facebook-plasing gesê.
Forensiese uitslae afgewag
Volgens Spies word die forensiese uitslae nog afgewag. "Die ondersoekbeampte gee gereelde terugvoer aan die familie van die slagoffer oor die vordering van die ondersoek," sê Spies. Die dossier sal na afloop van die ondersoek na die Nasionale Vervolgingsgesag gestuur word vir 'n besluit om te vervolg of nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’