Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - In die tye waarin ons leef kan daar net nie meer staatgemaak word op 'n stadsraad of die staat om te sorg vir die behoud van mense se kultuurhistoriese erfenis nie.
Dit was die boodskap van dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge), en hoofleier van die Voortrekkers toe hy onlangs die tolhuis in die Montagupas besoek het.
Hy was vergesel van Elizma Smith, kultuurorganiseerder van die FAK in die Wes- en Suid-Kaap.
In 'n onderhoud met George Herald het hy groot lof gehad vir Gerda Stols en die Vriende van die Tolhuis vir die werk wat hulle doen om die historiese geboue behoue te laat bly.
Volgens hom is George 'n voorbeeld van waar 'n gemeenskap, eienaarskap neem van hul kultuurhistoriese erfenis.
Die FAK en die tolhuis het 'n verbintenis wat oor etlike jare strek. Die organisasie het in die verlede fondse beskikbaar gestel vir die herstel van die rietplafon. Toe die tolhuis in 2018 in die brande beskadig is, het die FAK daarna weer fondse gegee vir die herstel van die rietplafon.
Langner het gesê daar is soveel erfenisterreinne wat gevandaliseer en beskadig word. Dit wat by die tolhuis gebeur is 'n verhaal van hoop en inspirasie.
As 'n gemeenskap nie verantwoordelikheid en eienaarskap neem soos byvoorbeeld die tolhuis, sal dit heeltemal tot niet gaan.
'n Gemeenskap soos George en baie ander gemeenskappe het unieke stories wat behoue kan bly vir die nageslag. Om iets soos die tolhuis te bewaar is eintlik 'n lewende monument.
Kyk 'n video hieronder:
Dr. Danie Langner (links) hoofleier van die Voortrekkers en Elizma Smith, adjunk hoofleier: Penkoppe en Drawwertjies van die Voortrekkers, by Louise en Mari Nortje wat die kenteken ontvang het. Die twaalfjarige Louise en Mari is 'n tweeling.
Voortrekkers kry erkenning
Tydens Langner se besoek is die nuwe kenteken van die Voortrekkers oor Covid-19 aan lede oorhandig.
Langner, die hoofleier van die Voortrekkers en Smith, adjunkhoofleier: Penkoppe en Drawwertjies, het dit aan lede van die Blanco-Niqua-kommando by die tolhuis oorhandig.
Langner het gesê dit is 'n spesiale kenteken. Die beweging het besluit om dit toe te ken omdat lede vanjaar sekere vaardighede moes aanleer soos byvoorbeeld die dra van maskers en handhawing van sosiale afstand.
Die kinders het vanjaar groot teleurstellings beleef omdat kampe afgestel is. Met die kenteken word gepoog om bietjie op te maak vir die teleurstelling. Daardeur word ook vir die kinders gesê hulle was deel van wêreldgeskiedenis wat vanjaar gemaak is.
Volgens hom het die Voortrekkers vanjaar op 'n digitale wyse vorentoe gegaan. Daar was byvoorbeeld digtale spanbyeenkomste.
Elizma Smith het gesê alle kinders en volwassenes wat by die beweging geregistreer is kan die kenteken ontvang.
Dr. Danie Langner (links) hoofleier van die Voortrekkers en Elizma Smith, adjunk hoofleier: Penkoppe en Drawwertjies van die Voortrekkers, by Louise en Mari Nortje wat die kenteken ontvang het. Die twaalfjarige Louise en Mari is 'n tweeling.
Elizma Smith, (lInks) kutuurorganiseerder van die FAK in die Wes en Suid-Kaap, dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniging) en Gerda Stols van die Vriende van die Tolhusi by 'n klipmodel van die tolhuis voor die tolhuis. Foto's: Eugene Gunning
So lyk die nuwe kentekens.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'