Haar sussie se twee kinders, Chané en Steven Marais, is weens huislike omstandighede ongeveer 'n maand gelede in haar sorg ge-plaas en sy het hulle met ope arms ontvang. Maar skielik was daar vier kinders in plaas van twee onderdak en sy moes blitsvinnig voorsiening maak.
"Ek was in 'n verknorsing, want ek het drie dae kans gehad om die huis in orde te kry. Ek moes vir elkeen sy eie kas en bed kry, reël vir skooluniforms en inskrywing by 'n skool," vertel sy.
Haar geskarrel is egter oral waar sy aangeklop het om aankope te doen of reëlings te tref, met soveel medemenslikheid begroet dat haar benoudheid gou omgesit het in vreugde en dankbaarheid. Kobus se Pandjieswinkel in Cradockstraat het vir haar afslag op twee klerekaste en beddens gegee, Outeniqua Laerskool en die ACVV het hulp verleen met skoolfonds en -klere, en haar pa, Robert, wat ook by hulle inwoon, karwei die kinders skool toe en terug wanneer Berdene op bystand is vir haar werk.
Daar was net nog een probleem. 'n Gesin van ses pas nie so lekker in 'n klein Opel Corsa nie en waarskuwings deur verkeersbeamptes vir oorlading het Berdene genoop om vir 'n groter ryding te begin soek. By GWM was 'n tweedehandse dubbelkajuitbakkie beskikbaar.
Jens Meyer, een van die verkoopspersoneel, was baie behulpsaam en het vir haar afslag aangebied. By The Auto Dealers, wat haar Corsa gekoop het, het Willie Fourie, Drian Fourie en Ather Bays geen moeite ontsien om haar te help nie. "Sonder hulle weet ek nie of die transaksie met die koop van die bakkie moontlik sou gewees het nie," sê sy.
"Die kinders is in ekstase oor die nuwe ryding. Nou sal ons nie weer afgetrek word nie en ons vang graag almal saam vis, so dis vir ons waarlik die ideale voertuig. Oupa klim ook makliker in die bakkie met sy swak knieë."
Boonop het Berdene se goeie vriend, Marius Fourie vir Chané en Steven fietse gekoop sodat die hele gesin naweke saam by hul gunstelingplekke kan gaan ry - in die Botaniese Tuine, by die dam of berg se kant toe.
"Ek wil almal wat my gehelp het, innig bedank. Dit beteken vir my soveel, want as enkelouer en met my werksomstandighede sou ek dit nie alleen reggekry het om al my kindertjies gelukkig te maak nie," sê die moederhen wat as forensiese beampte by die forensiese patologiese dienste van die departement van gesondheid werk.
Berdene Smuts se uitgelate kroos het gretig in die nuwe gesinsvoertuig, 'n dubbelkajuitbakkie van GWM, geklouter. Jens Meyer van GWM het die sleutels aan haar oorhandig. Die kinders is, van links, Wickus van der Merwe, Steven Marais, Chané Marais en Stian Bessell.