GEORGE NUUS - Dr. Dale (89) en Lettie (88) du Toit, geliefde inwoners van George sedert 1979, vier hul 60ste huweliksherdenking op 30 November. Hulle is in 1957 op Morgenster Sendingstasie in die eertydse Rhodesië (Zimbabwe) getroud waar albei ongeveer 'n kwarteeu lank sendelinge was.
Oral waar hulle kom, trap hulle diep spore as individue en as egpaar. Dale is in 1972 deur die Rhodesiese regering vereer met die MLM-medalje vir sy uitstaande mediese bydrae in die land en het in 1978 'n eredoktorsgraad ontvang by die Universiteit van Port Elizabeth.
Hy was jare lank superintendent van George-hospitaal en het na sy aftrede verreikende diens gelewer deur Christian Medical Services and Relief (CMSR).
Lettie, die dinamiese, liefdevolle vrou aan sy sy, was lank 'n Sonskyndame by George-hospitaal en is steeds betrokke by hulp aan mishandelde vroue. Hulle woon in Bergville-aftreeoord. Hulle pragtige liefde vir mekaar en die diep omgee waarmee hulle ander dien, maak hulle 'n uitstaande voorbeeld om na te volg.
Artikel deur Nadia Haarhoff, die Du Toits se kleindogter.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'