OUDTSHOORN NUUS - ‘n Afvaardiging van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TDM) het gister, 28 Februarie,‘n konstruktiewe gesprek gehad met verteenwoordigers van die Dysselsdorp-gemeenskap. ‘n Deurslaggewende ooreenkoms is bereik dat geen plaaslike inwoners uitsetting in die gesig staar nie.
Dit kom nadat inwoners van Donkerhoek Maandag, 26 Februarie met 'n protesaksie begin het na TDM 'n uitsettingsbevel op gesinne van die informele nedersetting bedien het. Daar woon meer as 100 gesinne.
Luidens 'n verklaring wat gister deur die TDM uitgereik is die distriksmunisipaliteit steeds toegewyd om 'n regverdige en menslike proses te volg om die situasie te beredder. Die TDM onderneem om verskeie belanghebbendes te betrek, om sodoende 'n regverdige oplossing vir die situasie te vind.
"Die een uitsettingskennisgewing het betrekking op Erf 2. Die ander uitsetting is vir die onwettige besetting van Erf 975, maar die TDM-raad het intussen besluit om hierdie uitsettingskennisgewing terug te trek. Geen plaaslike inwoners sal uitsetting in die gesig staar nie. Die kontraktuele oortreding het spesifiek betrekking op Erf 2 en word geassosieer met die Gona-Hesse! Khwe-groep. Die individue wie protes aanteken, is inwoners van Erf 975 en word mislei deur die Gona-Hesse! Khwe, wat nie hul kontraktuele verpligtinge met betrekking tot Erf 2 nagekom het nie. Die TDM gaan dus voort met sy regstappe slegs teen die Gona-Hesse! Khwe Royal Koninkryk wat tans ‘n deel van Erf 2 en Erf 975 huur en nie kontraktuele verpligtinge nakom nie.
Maandag, 26 Februarie se protesaksie
Gemeenskapsleier en voormalige raadslid, Leon Campher, het aan Oudtshoorn Courant gesê dat hy dit vreemd vind dat die TDM die uitsettingsbevel gedien het, omdat hy en ander inwoners onder die indruk was dat die grond aan die Oudtshoorn-munisipaliteit behoort.
"Die Oudtshoorn-munisipaliteit het selfs in die verlede toiletgeriewe, ligte en selfs water aan Donkerhoek se mense voorsien. Nou hoor die mense dis eintlik nie die munisipaliteit se grond nie en dat hulle nou op straat gaan sit. Waarheen gaan al die mense sonder 'n alternatiewe woning? Ons plan is nou om met die Oudtshoorn-munisipaliteit te skakel sodat hulle kan intree om die grond op hulle naam te plaas, aangesien Dysselsdorp deel vorm van die groter Oudtshoorn-munisipaliteit."
Volgens Campher het die gemeenskap verlede week vir die eerste keer bewus geword van 'n bestaande huurooreenkoms tussen die Gona Hesse Khwe Khoi-gemeenskap en TDM wat op dieselfde grond van Donkerhoek geleë is.
"Dit is waar die confusion inkom. Dié huurooreenkoms het absoluut niks met die gemeenskap van Donkerhoek te doen nie, alhoewel ons nou bewus gemaak is dat die Gona Hesse Khwe-gemeenskap se grond deel vorm van Donkerhoek. Dit skep 'n prentjie dat Gona Hesse Khwe-gemeenskap verantwoordelik is dat Donkerhoek se mense wat daar woon, wat nie die geval is nie. Donkerhoek se mense woon al vir ses jaar op die grond, lank voordat die Gona Hesse Khwe-gemeenskap 'n huurooreenkoms met TRDM aangegaan het. Ons eis dat 'n TRDM- of ODN-munisipale amptenaar hulle moet kom vergewis van die feite en geografiese ligging van die twee aparte gronde sodat die verwarring opgelos kan word. Jy kan nie die baba met die waswater wil uitgooi nie. Die Gona Hesse Khwe-gemeenskap se huurkwessie is iets waarby ons nie gaan of kan inmeng nie, maar om Donkerhoek se mense te wil uitsit, is glad nie aanvaarbaar nie."
Een van die inwoners van Donker-hoek het gesê dat dié gemeenskap bekommerd is oor die vooruitsig dat hulle dalk nie meer 'n dak oor hul koppe gaan hê nie.
"'n Mens kan nie die mense vir hul optrede kwalik neem nie, enigiemand sou kapsie maak as jy hulle blyplek wil wegneem. Die manier hoe die polisie gereageer het met skokgranate is ook nie regverdig nie. Ons wou maar net ons ontevredenheid wys."
Geen persone is gedurende die protesaksie beseer nie en die polisie se Openbare Orde-eenheid (Pops) het deurentyd orde gehandhaaf terwyl verkeersbeamptes die verkeersvloei na die protesaksie na normaal herstel het.
Tuinroete-distriksmunisipaliteit
Die TRDM het by monde van Herman Pieters Maandag 26 Februarie gesê dat hulle sedert 1 April 2022 tot 31 Maart 2025 'n huurooreenkoms met die Gona Hesse Khwe-gemeenskap aangegaan het, met die verwagting van gereelde huurbetalings.
"Nadat slegs die aanvanklike deposito betaal is, het die huurder se agterstallige skuld tot altesaam R267 776,58 opgehoop. Hierdie situasie het gelei tot 'n verbreking van die huurkontrak. In reaksie hierop het die munisipaliteit regstappe geneem om die bepalings van die ooreenkoms af te dwing. Die Gona Hesse Khwe-gemeenskap is formeel in kennis gestel van hul versuim om die huurverpligtinge na te kom. Die gemeenskap, van hul kant, betwis nou die TRDM se eis deur eienaarskap oor die betrokke grond te beweer. As deel van dié regsproses is 'n uitsettings-kennisgewing dus verlede week aan die Gona Hesse Khwe-gemeenskap uitgereik. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie dokument nie 'n uitsettingsbevel is nie, maar eerder 'n voorlopige kennisgewing. Hierdie kennisgewing dien om die gemeenskap in te lig oor die naderende regstappe en hul reg om die uitsetting in die hof te betwis. Gevolglik is 'n hofdatum vasgestel vir 8 Maart. Die uitreiking van die uitsettingskennisgewing en die daaropvolgende hofdagvaarding is direkte gevolge van die huur-ooreenkoms se verbreking deur die huurder, tesame met die onderliggende (skielike) grondeienaarskapeise. Die TRDM is daartoe verbind om sulke geskille deur regskanale op te los."
Oudtshoorn-munisipaliteit
Aurelia Mle, woordvoerder van Oudtshoorn-munisipaliteit, het gesê dat die Oudtshoorn-munisipaliteit reeds vir 'n geruime tyd hulle kommer oor die situasie met die TRDM bespreek het.
Mle sê verder dat alhoewel die grond nie aan die Oudtshoorn-munisipaliteit behoort nie, het die burgemeester die onderneming gegee dat daar indringend met die distriksmunisipaliteit oor die aangeleentheid in gesprek getree sal word en dat die distriksmunisipaliteit die versekering moet gee dat daar alternatiewe moontlikhede gegee word voordat mense uitgesit word.
"Die gemeenskap word ook gevra om nie Oudtshoorn-raadslede te konfronteer of te dreig nie aangesien hulle geen deel het aan die proses nie. Aanhitsers van oproer tree onwettig op en stel hulself bloot aan vervolging."
Gona Hesse Khwe Khoi-gemeenskap
Volgens koning Cornelius Botha van die Gona Hesse Khwe-gemeenskap spruit hul ongelukkigheid met TRDM-huuroorkeenkoms uit die feit dat TRDM nie die bestaande mense van die grond, alternatiewe wonings wil gee nie.
"Ons kan mos nie elke maand huurgeld van R10 800 betaal, maar daar is ook ander inwoners op ons grond wat nie bydra tot die huurgeld nie. Die vraag is dus, hoekom moet ons dan alleen huurgeld betaal as die TRDM nie verantwoordelikheid vat om die mense te verwyder op ons grond nie? Dis per slot van rekening TRDM se grond en nie ons sin nie, ons is maar net huurders. Ons het al vele beleggers gehad, want ons doel was om die grond te ontwikkel sodat ons die huurgeld kan betaal. Nou kan ons dit nie doen nie, want die gedeelte van die grond wat tans beset word, is uiters belangrik vir ons winsgewendheid omdat dit sentraal in die gemeenskap geleë is. Ek wil dit ook duidelik maak dat ek geen probleme met enige mense het nie, want my goeie vriende en hul kinders woon ook in Donkerhoek. Ons as Gona Hesse Khwe-gemeenskap kan mos nie self mense links en regs wil verwyder nie, dan gaan daar mos oorlog onder ons bewoners wees. Tot en met 8 Maart sal ons ook ons kans kry voor die hof om standpunt te stel," het Botha gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’