GEORGE NUUS - 'n Klompie kinderfietse vorm die kern van 'n politieke storm wat onlangs uitgebars het. In die een hoek is ontevrede ouers van Borcherds wat aanvoer Gayton McKenzie, die PA-leier, het kort voor Kersfees fietse aan kinders uitgedeel en dit daarna teruggevat.
In die ander hoek is Christo Alexander, die wyksraadslid en PA-lid, wat sê dit is nie waar nie en die hele situasie is politieke propaganda van teenstanders van die party.
Dit gons op sosiale media oor die aangeleentheid en die afgelope naweek het 'n berig daaroor in 'n Sondagkoerant verskyn. In die berig word beweer dat McKenzie die kinders van Borcherds se Kersvreugde gekaap en vertrap het.
Daar word ook verwys na plasings op 'n Facebookgroep waarin van die ouers mond uitspoel.
Alexander het George Herald genooi om Maandag 8 Januarie by sy kerk, Faith & Trust Outreach Ministries, te gaan kyk wat aan die gang is.
By die geleentheid het hy die fietse gewys en 'n groot groep kinders het daarmee gery in die parkeerterrein voor die kerk.
Christo Alexander, wyksraadslid vir Borcherds en PA-lid, sê die fietsprojek is sy idee en hy is die dryfkrag daaragter.
Hy het gesê hy woon sy lewe lank in Borcherds. Hy wou kyk na maniere om glimlagte op die gesigte van kinders te bring.
Een van sy projekte was om fietse te koop wat by 'n fietspark gebruik kon word. In Augustus het hy McKenzie genader en vertel van die projek. McKenzie het dadelik ingestem om te help met fietse en rolstoele.
Die fietse en helms is gekoop. "Die fietse is aan my as raadslid oorhandig. Hy (McKenzie) kon dit dus nie van die kinders wegvat nie. Ons het foto's van die fietse saam met die kinders geneem."
Dit was vir fotodoeleindes en omdat hulle solank wou hê die kinders moet weet wat gaan in die toekoms gebeur.
Na die geleentheid is en word die fietse by die kerk gestoor.
Alexander het gedink die aangeleentheid is verby, maar daarna het beweringe op sosiale media verskyn en die afgelope Sondag die koerantberig.
Hy het die storm as politieke propaganda beskryf en gesê mense moet in gedagte hou dat 'n munisipale tussenverkiesing op 14 Februarie in die aangrensende Parkdene plaasvind en dat 'n nasionale/provinsiale verkiesing ook later vanjaar plaasvind.
Hy het benadruk dat die planne om die fietspark te vestig, voortgaan. Die plan is dat die kinders minstens een keer per week met die fietse sal kan ry. "Dis hartseer dat kinders nou as 'n politieke speelbal gebruik word," het hy gesê.
Sandra Maart, wat namens van die ouers praat, het Dinsdag 9 Januarie gesê van die ouers is erg ongelukkig.
"Die kinders is onder die indruk gebring dat hulle die fietse kan hou. Daar is niks aan hulle verduidelik oor 'n fietspark nie.
Hoekom is hulle nie die dag van die oorhandiging toegelaat om met die fietse te ry nie?" wou sy weet. Sy sê die ouers se ongelukkigheid het niks te doen met politiek nie.
Die stuk grond links waar beoog word om die fietspark in Borcherds te vestig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’