GEORGE NUUS - Die engelstemme van die Suid-Kaap Kinderkoor (SKKK) het na ‘n uitmergelende stilte van sewe maande, weereens herleef, met stemgroepsoefeninge wat onder streng Covid-19 beskermingsprotokolle die afgelope naweek in George hervat is.
Nadat die SKKK aan verskeie Facebook en YouTube grendeltyd-opnamekonserte deelgeneem het en met aanlynrepetisies gepoog het om lede gemotiveerd te hou, was dit ‘n groot mylpaal vir die koor om weer bymekaar te wees, al was hulle in klein groepe verdeel.
Tydens die eerste repetisie, wat soos ‘n toneel uit ‘n ruimtefliek daarna uitgesien het, het lede meer as 2 m van mekaar gesit, en óf ‘n masker óf ‘n gesigskerm gedra. Die oefentyd is ook verkort om lede nie uit te put nie.
Volgens die dirigent, Jan-Erik Swart, wat deurgaans navorsing oor die effek van grendeltyd op kore gedoen het, het hy dadelik agtergekom hoe emosioneel “verdoof” hulle voorgekom het en die angs waarmee hulle skynbaar saamleef, kon aanvoel.
Met sy gebruiklike energieke benadering het hy die oefenroetine waaraan hulle voorheen gewoond was, gebruik om vinnig weer die glinster in hul oë te plaas.
Almal het vinnig agtergekom dat die gebruik van gesigskerms ‘n baie meer persoonlike beskermingsmaatreël was, aangesien die skerms kinders hul gesigsuitdrukkings tydens hul sang effektief met mekaar kon deel, die ware klank van hul stemme binne die skerm na hul eie ore kon laat terugdeins (wat ‘n goeie ding is), en ook ‘n mate van asembeheer en stemprojeksie kon vermag.
Die grendeltydperk was duidelik ‘n moeilike tydperk vir koorlede, wat nie almal digitaal met mekaar kon kontak behou nie. Lede, wie se ouers weens veranderde werksomstandighede skielik elders moes verhuis, het sonder meer net “verdwyn,” terwyl ouers wat finansieel swaarkry hul kinders noodgedwonge van lidmaatskap moes onttrek.
Die verlies aan stemme en fondse vir die koor weens konserte en koorfeeste wat gekanselleer moes word, het die koor se voortbestaan op ‘n mespunt geplaas.
Nietemin het die uitdagings wat die koor in die gesig staar, die SKKK nie lamgelê nie. ‘n Rits opwindende vooruitsigte lê vir die koor voor.
‘n Heropenings-kerskonsert met Jannie Moolman en Corlia Botha, begelei deur ‘n UV orkesensemble o.l.v. Paul Loeb van Zuilenberg sal bekende Afrikaans en Kersliedere op die Celebratio-opelugverhoog aanbied.
Die stemgroepoefeninge van die Suid-Kaap Kinderkoor is onder streng Covid-19-protokol die afgelope naweek in George hervat.
Oudisies
Ook, vir die eerste keer in die koor se geskiedenis kan oudisies lewendig of per opgeneemde video tuis gedoen word. Verskeie skole se musiekdepartemente het reeds aansoekvorms vir oudisies ontvang, maar voornemende sangers tussen die ouderdomme van 10-16 kan ‘n SMS met die woord “oudisie” aan 084 645 9320 stuur om ‘n afspraak te reël.
Junior
Nog ‘n opwindende vooruitsig is die stigting van die Suid-Kaap Junior Kinderkoor, wat in Januarie 2021 met kinders tussen 6 en 9 jaar afskop. Die juniorkoor oefen slegs 1 uur per week, en lede word speel-speel opgelei om hul stemme korrek en natuurlik te ontwikkel.
Oudisies vir die juniorkoor word nie benodig nie, en ‘n SMS met die woord “junior” kan aan 084 645 9320 gestuur word om verdere inligting te ontvang.
Reünie
Die hoogtepunt van 2021 gaan ongetwyfeld die SKKK se 25ste reünie wees wat ‘n groet-en-ontmoet-braai, ‘n repetisie van drie vooraf-geoefende liedere, asook ‘n oudlede-koorkonsert sal insluit. Oudlede wat meer wil weet kan “bywoon” aan 084 645 9320 SMS.
Ten spyte van die onsekerhede wat wêreldwyd met vliegreise heers, droom die SKKK om in 2022 na Suid-Korea te reis om aan die 12de Wêreldkoorspele deel te neem, om sodoende hul huidige 214de plek onder die ranglys van top 1 000 kore ter wêreld te verbeter.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'