GEORGE NUUS - 'n Dexter-bul van dr. Mark Wiseman en sy seun, Alexander, het verskeie toekennings by die Bloemskou ingepalm, wat van 28 April tot 5 Mei plaasgevind het.
Die bul, Amadeus Gunner, is aangewys as die wenner in die afdelings senior bul, groot kampioen Dexter-bul asook die opperste kampioen by die skou.
Dit was pa en seun se tweede skou en om sulke hoogtes te bereik, is fenomenaal. Ook in die interras opperste kampioenafdeling het Gunner uitstekend gevaar deur derde te eindig.
"Gunner is nog baie jonk vir ‘n senior bul en sal moontlik volgende jaar kan wen as ek sy kondisie verbeter," sê dr. Wiseman.
Alexander is ‘n leerling by York High en is toestemming gegee om sy pa na die skou te vergesel. "Die rit na Bloemfontein neem 10 ure en ons het Saterdag teruggekeer na George," vertel Wiseman.
"Ons was die enigste telers van die Eden-distrik wat by die Bloemskou gewen het. Die senior beoordelaar, Maarten Syffert, het vir die eerste keer in oor die 20 jaar ‘n bul gekies, voor die vroulike diere wat by die skou vertoon is. Dit was sy laatste skou as hoofbeoordelaar na 55 jaar in die beesskoubedryf."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’