GEORGE NUUS - Diegene wat die plaas-like politiek met 'n vergrootglas dophou sal verbaas wees om te sien wie het 'n polkadraai gemaak van DA, na Good, na PA ... en wag, weer terug by die bloues!
Die voormalige spreekbuis van Good in die Suid-Kaap, Donovan Saptoe, en Richard Hector (let wel beide voormalige Good-raadslede), het onlangs weereens by die DA aangesluit.
Saam met hulle op foto's en oral op sosiale media, is die nimlike Sandra Maart - 'n bekende van die Facebook-groepe George Lokasies Praat Saam en LSS Community Care.
'n Vrolike geskertsery het tussen Maart en 'n lid van George Lokasies Praat Saam ontstaan, toe daar gespekuleer word hoe die nuwe DA-lede nou gaan maak wanneer hulle vir die tussenverkiesing van 14 Februarie besoek gaan aflê by inwoners van Parkdene, vir wie hulle kort gelede groen T-hemde van die PA-party uitgedeel het. Alles was in goeie gees.
Met sowat 'n week voor die tussen-verkiesing in Parkdene, wyk 8, is dit te verstane dat almal opgewonde raak.
David Willemse, 'n voormalige raadslid van wyk 8, staan weereens vir die DA. Willemse het vier jaar gelede, in Januarie 2020, as DA-wyksraadslid bedank. Hy was ook die portefeuljeraadslid vir menslike nedersettings.
Saptoe het op sosiale media gesê nie almal se politieke reise is dieselfde nie: "Party s'n gaan na dié kant, ander na daai kant, en hier sien u nou. Wat ons ook al gedoen het, vandag staan ons hier, en ons het geëindig by die Demokratiese Alliansie. Van alles wat ons gedoen het en nog gaan vermag, is dit seker die mees onbaatsugtigste skuif wat ons nou gemaak het."
Saptoe het die DA bedank vir die verwelkoming wat hulle ontvang het. "Ons het nog nie een keer onwelkom gevoel nie. Daar is geen beloftes gemaak nie en geen onderhandelinge het plaasgevind nie. Ons wil doen wat die beste is vir die gemeenskap."
Op 'n vraag aan Venolea Fortuin, DA-voorsitter van die Oosstreek, oor Saptoe en Hector se terugkeer na die party, het sy gesê dat die grondwet van die DA, asook die Suid-Afrikaanse Grondwet, enige individu toelaat om aan te sluit by 'n party van hul keuse.
"Die party het dan die reg om sodanige lidmaatskap te beëindig indien sekere klousules oortree word," het Fortuin gesê.
"Die twee individue het die plaaslike DA-struktuur genader om aan te sluit as gewone lede en hul deel te doen soos enige ander lid. Hulle mag, soos enige ander gewone lid, deelneem aan ons prosesse en deel vorm van plaaslike takke. Indien hulle skuldig bevind word soos beweer, aan ernstige sake, dan sal daar summier opgetree word.
"Die komende tussenverkiesing gaan bepaal of die DA 'n volstrekte meerderheid behou en vir die volgende nege dae sal ons aandag uitsluitlik daarop gefokus wees, soos dit was sedert ons te hore gekom het van die vakante posisie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’