GEORGE NUUS - "Amanda en ek is baie trots. Ons wou ook altyd 'n dogter gehad het. Ons is gelukkig met die seuns, maar nou het ons 'n kleindogter."
So het Jannie Stander, pa van die Suid-Afrikaans gebore rugbyspeler, CJ Stander, Dinsdag vertel.
Stander, bekende boer van George en sy eggenoot, Amanda, het verlede Vrydagaand die eerste keer oupa en ouma geword.
CJ wat deesdae vir Ierland uitdraf en sy eggenoot, Jean-Marié het Vrydagaand die trotse ouers van 'n dogtertjie, Everli, geword wat in Ierland gebore is. CJ het in die Suid-Kaap grootgeword.
Dit is ook die eerste keer dat Jean-Marié se ouers, die Neethlings, wat in Bloemfontein woon, oupa en ouma geword het. Hulle het reeds na Ierland vertrek en Amanda vertrek binnekort.
Jean-Marié het op haar dag self internasionaal in swem meegeding en haar broer is Ryk Neethling, voormalige Olimpiese swemmer. CJ se broer, Janneman het ook sy merk op die sportveld gemaak en was kaptein van die SWD Arende.
Jannie het aan die George Herald gesê CJ-hulle kom in Desember in die Suid-Kaap kuier. Die kleinkind sal dan ook gedoop word. "Ons het reeds geskenke gekoop en ons gaan die kleinkind bederf."
Volgens Jannie gaan dit baie goed met Jean-Marié en CJ. "CJ is baie trots en hy kan nie ophou glimlag nie."
Intussen wag CJ om te hoor of hy in die Ierse span is wat in September in die Wêreldbekertoernooi in Japan gaan meeding. "Ons hou duime vas dat hy wel die span sal haal."
As CJ die span haal, is dit moontlik dat Jannie Japan toe sal gaan om te gaan kyk hoe sy seun in die toernooi speel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'