GEORGE NUUS - Die buurtwagte van Conville, Protea Park, Rosemoor en Borcherds het Sondagmiddag, 14 Februarie, 'n optog gehou teen misdaad in hul woonbuurte. Dit is onder andere misdade soos roof, inbrake by huise, gryp van items uit motors by verkeersligte en grypdiewe wat voetgangers met hulle inkopies teiken, wat groot kommer wek.
Rudi Lewis van Conville-buurtwag sê hulle wou graag die breër gemeenskap inlig oor brandpunte in hul areas waar inwoners vir hul eie veiligheid waaksaam moet wees.
"Die Nelson Mandela-rylaan is veral 'n brandpunt vir misdaad, en mense luister nie na waarskuwings nie.
"Hulle loop met hul duur selfone wat gegryp word en dan is dit weg. Ons vra dat mense hul deure moet sluit, nie items op die sitplek los nie, nie met 'n oop venster ry nie en nie op 'n selfoon praat nie, want jou aandag is afgetrek."
Lewis sê die tema van Sondag se plakkaatoptog was, 'Genoeg is Genoeg'. Hy meen gemeenskappe is ook moeg van die "klein jakkalsies, soos die harde musiek van jou buurman wat jou grensloos frustreer en onenigheid veroorsaak".
In 'n onlangse voorval het mense slaags geraak met mekaar nadat een van die bure oor die ander se harde musiek gekla het. "Mense het seergekry en van hulle moes ook mediese behandeling kry."
Lewis sê na dié voorval het die leiers vergaderings gehou wat op drie onderskeie plekke gehou is. Volgens Lewis was die gemeenskap teenwoordig en kon hulle daar praat oor dinge wat hulle pla.
In nog 'n insident die afgelope Sondag-oggend by die Nuwe Apostoliese Kerk in Conville, is iemand deur vier onbekende mans beroof net na hy die kerk se deur oopgesluit het. Lewis sê mense is baie ontsteld dat nie eens die kerk oorgesien word nie.
Hy sê buurtwagte doen ook 'n beroep op ouers om nie hul kinders, veral jong kinders, wat betrokke is by bende-aktiwiteite, weg te steek nie. "Ouers moet weer verantwoordelikheid neem vir hul kinders se aksies, veral as hulle weet daardie kind is betrokke by ongerymdhede. Praat met jou kind en maak seker dat hulle nie laatnag rondloop nie." Baie keer raak kinders betrokke by dinge omdat hulle laatnag saam met vriende rondstap, asof hulle nie ouers het wat omgee nie.
Die leierskorps van die onderskeie buurtwagte wat saamstaan teen misdaad en geweld.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'