GEORGE NUUS - Stadsraadslede, munisipale amptenare, lede van die gemeenskap en ander belanghebbendes het Dinsdag moue opgerol en 200 bome in Rosedale, Pacaltsdorp geplant.
Onder die aanwesiges was Melvin Naik, George se burgemeester, Charlotte Clarke, die onderburgemeester en Gerrit Pretorius, speaker van die stadsraad.
Onder die bome wat geplant is, was geelhoutbome, wilge, melkhoutbome en essenhoutbome. Dit is op 'n terrein geplant wat voorheen as 'n stortingsterrein gebruik is en was deel van die Institute of Environment and Recreation Management (IERM) se konvensie wat Dinsdag begin het en tot Vrydag in George aanhou. Afgevaardigdes van oor Suid-Afrika woon die konvensie by.
Die IERM is 'n nie-regeringsorganisasie en het 'n 1 000 lede waarby 100 munisipaliteite regoor Suid-Afrika betrokke is.
Bishop Ngobeli, president van die IERM, het gesê bome word in George en ander dele van die wêreld geplant. Hy het die hoop uitgespreek dat teen die einde van 2020 daar 'n 100 000 bykomende bome in George geplant sal wees.
Mev. Groen SA, Ndihone Ndzinisa by een van die bome wat geplant is.
Radie Loubser van die George-munisipaliteit het gesê dit is net die begin van 'n veeljarige projek.
Nog boomplant-geleenthede gaan plaasvind.
Volgens hom het bome waarde. Dit verskaf onder meer skaduwee, dit verminder geraas en is ook mooi om na te kyk.
Gerrit Pretorius, speaker van die George-stadsraad plant 'n boom. Hier word hy gehelp deur Jonathan Mackenzie van George en Adam Mostert van Willowmore.
Pa en seun plant 'n boom. Heatwin Buys (15) 'n gr. 9-leerling aan Hoërskool Outeniqua plant 'n boom saam met sy pa, Patrick Buys, 'n lid van die George-stadsraad. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'