Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Ten spyte van sy blindheid, sit Carl de Campos, 'n databasisadministrateur en -ontwikkelaar vir Business Connection, nie terug met verskonings waarom hy nie die lewe met hart en siel kan aangryp nie.
Hy woon onafhanklik, is sportief en beoefen verskeie stokperdjies in sy vrye tyd.
Een van sy groot liefdes is treine en hy het die George Herald genooi om te kom kyk na 'n werkende modeltreinuitstalling waaraan hy die afgelope jaar en vier maande werk.
'n Mens se mond hang oop om te dink dat 'n blinde persoon dit gebou het.
De Campos het aandag gegee aan die fynste detail, van die lokomotiewe en waens, die stasiegebou met mense op die perron, en 'n tonnel deur 'n berg, tot die landskap langs die spoorlyn waar plaasdiere wei, huise se ligte wat gesellig skyn en mense en troeteldiere wat bedrywig is.
Selfs motors op die teerpad langs die spoor se ligte brand wanneer hy die krag aanskakel.
Hy demonstreer 'n mini-Shosholoza Meyl, Trans Karoo en Inter City Express (ICE).
Die byklanke is eg - klankopnames van die ware Jakob wat hy self maak en dan meng met klanklêers wat hy van die internet aflaai.
Op die een trein is daar selfs radiogesprekke wat die masjinis met iemand voer.
In sy soektog na materiale en lokomotiewe, het De Campos met verskeie ander treinentoesiaste kennis gemaak wat enjins bou of bome en plante maak, soos Eric Bekker van Danabaai en Lourens Sturgeon van Pretoria.
Die enigste hulp wat hy met die bou van die model gekry het, was met die lê van die fyn klippies rondom die treinspoor.
Kyk twee videos hieronder:
De Campos gebruik sy aande en naweke vir modelbou so tussen al sy ander bedrywighede deur.
Hy is lid van die Nedbank-hardloopklub en berei tans voor vir die Cango-marathon.
Hy het al die Comrades-marathon en Cape Argus suksesvol voltooi.
In The Xtreme Body Factory waar Carl op sy eentjie oor die weg kom. Die hulpvaardige personeel en vriendelike eienaar, Jeanne van Staalduinen, het hom met ope arms verwelkom.
Deesdae is hy 'n gereelde gesig by die Xtreme Body Factory-gimnasium, ry af en toe perd, en het 'n stel tromme aangeskaf waarop hy al 'n paar lesse geneem het.
Toelie Barnard, wat vir De Campos soos 'n tweede ma is en saam met hom hardloop, voeg by: "Hy stryk, kook en hou sy woonplek hipernetjies."
De Campos sê sport het hom gehelp om deursettingsvermoë te ontwikkel, maar net so het die blindheid daartoe bygedra, want dit veroorsaak dat hy baie dinge moet verduur.
Hy besit 'n tandembergfiets, maar soek nog na iemand wat saam met hom kan ry.
Boonop wil hy nou en dan staptogte in die natuur onderneem, maar het iemand nodig om hom te lei.
Mense kan De Campos deur Facebook kontak.
Die Shosoloza Meyl in die stasie. Foto verskaf
Wees verseker, hy sal jou inspireer, want hy lewe werklik volgens die motto onderaan sy e-pos: 'Blindheid is nie 'n hindernis nie, maar 'n uitdaging.'
Op die George Herald-webwerf kan lesers sy modeltreine in aksie sien en hoe hy sy weg in die gimnasium vind.
Daar is ook 'n skakel na sy YouTube-kanaal.
Die Duitse ICE-spoedtrein is een van die talle modeltreine wat deel is van Carl de Campos se werkende uitstalling. Foto verskaf
ARTIKEL, VIDEO'S & FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'