Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Een van Suid-Afrika se bekendste akteurs, Ivan Zimmermann, gaan help om van die natuurskoon en wonderlike mense van die Tuinroete meer blootstelling te gee.
Zimmermann, wat deesdae in George woon, is betrokke by 'n nuwe TV-kanaal, All things Garden Route.
Dit sal van 1 Mei te sien wees op YouTube en hy doen dit in samewerking met die George-munisipaliteit en George-toerisme.
Die fokus is op die Tuinroete. Die afgelope paar maande was hy en sy vennoot, Eon Coetzee, reeds druk besig met opnames. Tydens 'n onderhoud met George Herald het Zimmermann die sluier gelig oor dit waarmee hy besig is.
Hy kan nie uitgepraat raak oor die Tuinroete nie. Hy het eintlik 'n lang verbintenis met die gebied. Sy oupa, Ivan McCarthy, was jare gelede lid van die polisie se berede afdeling. McCarthy het destyds gereeld die Montagupas te perd gepatrolleer. As kind het Ivan ook dikwels hier saam met sy ouers kom vakansie hou.
Toe hy sowat 'n jaar gelede besluit het om van Kaapstad hierheen te verhuis, het hy besluit hy wil hier 'n verskil maak. Hy het alles in die Kaap verkoop en is nou 'n volwaardige inwoner van George.
Wat hom opgeval het sedert hy hom 'n paar maande gelede hier gevestig het, is dat die gebied nie net oor natuurlike skoonheid soos die berge en see beskik nie, maar ook wonderlike mense. Daar is diversiteit.
Hy glo die mense se stories moet vertel word. Hy beskryf die nuwe kanaal as aktualiteit waar mooi opbouende stories en nuus vertel gaan word. Dit moet inspirerend vir mense wees. Dit is baie gemeenskapsgedrewe.
VIDEO: Bekende akteur begin tv-kanaal in Tuinroete
Aanvanklik sal elke program tussen 15 en 20 minute duur.
Benewens die TV-kanaal is hy ook betrokke by Eden Cycle Tours. Dit is bekend dat Zimmermann 'n groot liefde het vir sport en so leef hy die belangstelling uit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’