GEORGE NUUSFLITS - ‘n Op-en-wakker sekerheidswag het waarskynlik gisteraand, Maandag 6 Augustus ‘n bejaarde vrou (73) van Groenkloof-aftreeoord se lewe gered ná sy deur ‘n verdagte man in haar huis oorval en aangerand is.
Die vrou woon in die Woods-gedeelte van die oord.
Volgens aanvanklike inligting het die verdagte die vrou, wat alleen bly, met ‘n vuurwapen oor die kop geslaan ná sy hom in haar huis betrap het. Hy het haar daarna gedwing om met haar voertuig by die kompleks uit te ry terwyl hy agter in die motor gelê het.
Gelukkig het die sekerheidswag by die hek bloed op die vrou se klere opgemerk, onraad vermoed en die man agter in die motor sien lê. Die verdagte het uit die motor gespring en te voet gevlug.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die slagoffer is na die George-hospitaal geneem.
Dit is nog onbekend hoe die verdagte toegang tot die oord verkry het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'