GEORGE NUUS - Die ATKV-Tak Outeniqua vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar. Oor die jare heen het die tak verskeie projekte aangepak om hul stempel in die gemeenskap af te druk.
Vanjaar was 'n jaar waar daar baie spesifiek op kinders en die welstand van kinders gefokus is.
'n Paar van die projekte is saam met ander organisasies in George aangepak, byvoorbeeld 'n skryfbehoefteprojek in samewerking met die ATKV-tak, Sommer net Ons.
'n Leesprojek is ook van stapel gestuur waar die Outeniqua-tak, St Mary's Primêr, Kretzenshoop Primêr en Môreson-jeugsorgsentrum saamgespan het om aan volwassenes opleiding te verskaf sodat hulle leerlinge kan help om hul leesvaardigheid te verbeter.
Die groot fokus het hierdie jaar op Carpe Diem Skool geval. Een van die groot uitdagings vir die skool is om die kinders behoorlik te voed. Een van die projekte waarby die Outeniqua-tak vanjaar betrokke was, is Carpe Diem se groentetuin waar groente vir die uitsluitlike gebruik van die skool verbou word.
Die saad word ook geoes en weer geplant. Die uiteindelike doel is vir die skool om al hul vars groente self te voorsien.
Die sopbottelprojek is net so goed deur die skool ontvang. Vir hierdie projek is droë bestanddele wat tipies in sop gebruik word in 'n bottel saamgevoeg en aan die skool geskenk. Een so 'n bottel voed ses kinders.
'n Ander groot behoefte van die skool is papier, veral tikpapier, wat daagliks vir skoolaktiwiteite en lesse benodig word en ook hier het die ATKV hul kant gebring. Nog 'n projek was die voorsiening van sokkies en serpe wat die kinders tydens die wintermaande moes warm hou.
Rolbal
Die ATKV se jaarlikse rolbalaand is altyd 'n groot gebeurtenis wat oud en jonk geniet. Alhoewel daar geen eerste prys is nie, is daar heelwat wenners en nie 'n enkele speler het met leë hande weggestap nie.
Die aand is die tak se grootste geldsin-samelingsprojek vir die jaar en met die geld wat vanjaar bymekaargemaak is, is twee yskaste vir Carpe Diem gekoop.
Takvoorsitter Joubert Theart het elke lid bedank wat gehelp het om die jaar se projekte 'n sukses te maak en elkeen wat gedurende 2022 'n impak gemaak het.
"'n Baie spesiale dankie aan Jannie Stander vir die skenking van die hout en wors vir die worsbroodjies by die rolbalaand."
By die jaarlikse rolbalaand van die ATKV Outeniqua-tak het die span van Southern Cape Properties met hul lemmetjiegroen Alice in Wonderland-tema met die louere weggestap as die span wat die meeste aandag getrek het met hulle uitrustings. Die voorsitter van die ATKV Outeniqua-tak, Joubert Theart is hier by die span, van links: Francois Deysel, Roland Chapman, Minda Oliver en Deon Kleyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'