GEORGE NUUS - Inwoners van New Dawn Park het Maandag in groot getalle by George-munisipaliteit opgedaag omdat hul krag geblok is. Heelwat van hierdie persone ontvang deernishulp weens werkloosheid of 'n lae inkomste.
Volgens die voorsitter van Pacaltsdorp se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Charly Daman, is vergaderings vandeesweek belê om inwoners weer in te lig rondom die nuwe deernisbeleid waarvoor dringend aansoek gedoen moet word, asook wat gebeur wanneer hulle meer water gebruik as wat hulle, volgens die beleid, verniet ontvang.
Wyk 16, New Dawn Park, het onder meer vier plakkerskampe.
"Die probleem is die mense kom koop krag, en dan word waterskuld afgetrek. Hulle betaal met R100 en het min om daarvoor te wys," het Daman gesê. "Nie almal het toegang tot e-posse en selfone nie. Van die mense is bejaard en nie tegnies aangelê nie. Hulle is nie bewus van die nuwe reëlings nie."
Hy reken die nuwe deernisbeleid wat op 1 Julie in werking geskop het, het mense onkant gevang. "Gelukkig weet heelwat inwoners nou hulle moet herregistreer, en kan dit sommer by die areakantoor in New Dawn Park doen. Sommige het nie eens geld om met 'n bus tot in die dorp te kom nie. Dit is rof."
Vir die huidige finansiële jaar moet gesinne wat aansoek doen vir die deernistoelaag 'n gesamentlike inkomste hê wat nie R5 160 oorskry nie. Die bedrag word bereken as dubbel die huidige Sassa-toelaag. Agterplaasbewoners kan slegs vir deernis kwalifiseer indien die hoofhuis ook vir deernis kwalifiseer.
Blok van kragmeters
Volgens die munisipale woordvoerder, Chantèl Edwards, is die blok van voorafbetaalde kragmeters 'n normale prosedure wat die munisipaliteit toepas vir kredietkontrole, wanneer munisipale rekeninge agterstallig is.
"Sou 'n verbruiker nie op die SMS-boodskappe, ontkoppelingskennisgewings of enige ander skuldinvorderingsmaatreëls reageer nie, word die voorafbetaalde meters geblokkeer om 'n reaksie van die verbruiker te kry."
Hoof- finansiële beampte, Riaan du Plessis, het gesê alhoewel die munisipaliteit sensitief is vir die pleidooie van die gemeenskap ten opsigte van meer hulp aan armes, moet daar aan die wetlike vereistes voldoen word, terwyl die maksimum moontlike hulp binne die grense van die regulasies verskaf word.
"As gevolg van die insette wat van die openbare deelnameproses ontvang is, is die deernisbeleid gewysig om behoeftige huishoudings in staat te stel om 'n elektrisiteitstoevoer van meer as 20 ampère te kies sonder om hul deernisstatus te verloor.
"Deernis gesinne sal dus 'n reeks opsies tot hul beskikking hê om hul voorafbetaalde elektrisiteitskoste te bestuur, met 20 Amp wat die mees bekostigbare opsie is. Die besluit volg na konsultasies met gemeenskap," het Du Plessis gesê.
Belastingbetalers wat nie 'n e-posrekening het nie word aangemoedig om ander metodes te gebruik om hul rekeninge elektronies te bekom (sien opsies aanlyn) of in persoon by die munisipaliteit.
"Die poskantoor is onder voorlopige likwidasie en daarna sakeredding geplaas en is dus nie meer 'n betroubare vennoot om te verseker dat hardekopie-rekeninge maandeliks en betyds afgelewer word nie," het Du Plessis gesê.
Betaalopsies
Toegang tot rekeninge kan verkry word per e-pos via 'n selfoon, via die George Munisipale Toepassing (die Nuwe My Smart City TOEP sal ook voorsiening maak vir betaling) via www.george.gov.za waar betaling gemaak kan word, of persoonlik by die George Munisipale Kassiersaal of enige van die area-kantore.
Die opsie is ook beskikbaar om via elektroniese oorplasing te betaal of Unipay te gebruik deur op die QR-kode op jou staat te klik by Checkers, Shoprite, USave, SPAR en Pep. ’n Duplikaatstaat kan ook aangevra word by accounts@george.gov.za. Verskaf asseblief jou GRG-rekeningnommer op versoek.
• Skakel in by 044 801 9009/4/17 of 044 801 9135 of 044 801 9518 om die bedrag betaalbaar te versoek.
• Verbruikers kan die afdeling vir skuldbeheer kontak vir hulp by 044 801 9111 (kantoorure) of 063 699 5998 (na-ure) of stuur 'n e-pos na creditcontrol@george.gov.za.
Skakel 044 801 9009/4/17 of 044 801 9135 of 044 801 9518 om die bedrag betaalbaar te versoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’