Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Maryke le Roux het geblom soos een van haar Afrika-prinsesse tydens die opening van haar heel eerste kunsuitstalling verlede Donderdag by die kunsgalery 21 On Montagu, aan die bopunt van Yorkstraat.
Haar bekoring met die Afrika-kultuur is duidelik te bespeur in haar olieverfskilderye, wat fokus op die skoonheid van individue.
Nie alleen het sy hierdie prestasie om te vier nie, maar Maryke is boonop genooi om binnekort uit te stal by House of African Art (Haart) in Londen.
Haar liefde vir kuns is deel van Maryke se psige. As klein dogtertjie het sy reeds talent getoon en in haar matriekjaar (2005) by Girls' High in die Paarl is Maryke vereer as die Wes-Kaapse topstudent in fine arts. Maryke gee spesiale erkenning aan haar hoërskoolonderwyser, Lorraine Blumer, wat haar talent help vorm het.
Tien jaar werkservaring in die buiteland, waaronder as skoonheidsterapeut op luukse seiljagte, het Maryke verder geslyp vir hierdie nuwe hoofstuk in haar lewe - om saam met haar man, Jacques, in George te anker en om voltyds te skilder.
Niks kon haar egter voorberei op die ongelooflike gevoel van 'n "eerste uitstalling" nie. Oor haar werk sê sy die volgende: "Dit gaan nie net oor skakerings van grys, swart en wit nie. Daar is soveel meer in elke individu wat hulle uniek maak. Die kleur in my werk verteenwoordig ons groot verskeidenheid kulture, en hoe uniek elke mens is."
"Almal is geïntegreer en vorm deel van vandag se mooi kaleidoskoop-wêreld. 'n Mens kry gemengde rasse en kulture, die samelewing het so ontwikkel, en daarom het ons stunning individue." In hierdie reeks van Maryke het sy "blou oë" 'n kenteken gemaak. "In my volgende reeks sal die fokus op groen of bruin oë wees," het sy gesê.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'