Volgens Hennie Pienaar, een van die sameroepers, sal die tak bekendstaan as Outeniqua AfriForum.
"Ek is baie tevrede met die verloop van die eerste byeenkoms. Die behoefte is groot. Mense is bewus van nood en onreg in hul omgewing en daar moet opgetree word. Saam is ons tot beter en meer in staat. Ons bydrae sal tot voordeel van elkeen in ons area wees," het Pienaar gesê.
'n Plaaslike tak is nodig omdat AfriForum meestal nasionale veldtogte loods terwyl takke se fokus op plaaslike kwessies val, soos die kwaliteit van water en ander dienste wat munisipaliteite lewer.
Een van die eerste sake wat hy voel 'n George-tak moet takel, is die munisipale vullisterrein wat nie omgewingsvriendelik bestuur word nie. "Sekuriteit is swak en daar is geen professionele stelsel tans in werking nie. Dit help nie die munisipa-liteit is bo blink en onder stink nie. Enige gemors kan daar weggegooi word sonder enige orde of kontrole. En dan word die onreg deur 'n groot stootskraper toegestoot en weggesteek."
Ander sake wat die tak voel aandag behoort te kry, is misdaad deur kwaaddoeners wat vir geen rede in die strate rondloop nie. "Daar is onder meer beboste gebiede langs die spoorlyn in Hoopstraat wat nie kort gehou word nie en aan boosdoeners skuiling bied. Daar was reeds oproepe hieroor na die munisipaliteit, maar niks gebeur nie. Lede is ook ontevrede oor die lae betrokkenheid van politieke kandidate in hul wyke."
Hy het gesê enige persoon kan aansluit, nie net Afrikaners of Afrikaanses nie. "Elkeen wat hom kan vereenselwig met die grondwet van die organisasie mag aansluit. Geen diskriminasie van enige aard word geduld nie."
Mense wat lid wil word, kan hom kontak by 082 380 3299.
Die sameroepers van 'n plaaslike tak vir AfriForum, Tinus Nortjé (links) en Hennie Pienaar saam met Frankie Nel en Mertia Ross (regs) wat onder die belangstellendes was by verlede week se ledewerwingsvergadering. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'