GEORGE NUUS - Die 'n 38-jarige man wat gisteroggend, 2 November, dood in die aanhoudingselle by die George-polisiestasie gevind is, het hom glo met sy skoenveters gehang.
Robbie Raburabu, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), het by navraag bevestig dat hulle die omstandighede rondom die man se dood ondersoek.
“Die oorledene is vroeër die oggend in hegtenis geneem vir besit van vermoedelik gesteelde goedere en is ‘n paar ure later aangetref waar hy aan diefwering in die sel gehang het. Daar word gesê hy het skoenveters gebruik,” sê Raburabu.
Volgens inligting is die oorledene in die nabyheid van die George-nywerheidsgebied in hegtenis geneem.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder sers. Chris Spies, het bevestig dat die George-polisie 'n geregtelike doodsondersoekdossier geopen het.
Spies sê voorlopige inligting dui daarop dat die man deur polisiemanne tydens 'n roetine inspeksie gevind is. Hy is later deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Die bestuur van George-polisie het ook 'n interne ondersoek na die omstandighede rondom die voorval geloods.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’