GEORGE NUUS - Kabeldiefstal bly 'n enorme probleem. In 'n onlangse voorval het op-en-wakker inwoners van 'n residensiële area in George verhoed dat 'n kabeldief met meters elektriese draad die pad vat.
Vinnige optrede van die publiek het gehelp dat die oortreder op heterdaad betrap is en in hegtenis geneem is.
Munisipale kommunikasiebeampte, Debra Sauer, het bevestig dat die George munisipale direktoraat vir elektrotegniese dienste steeds ernstige uitdagings met vandalisme van infrastruktuur sowel as kabeldiefstal ondervind.
"Daar is vir die maand van Junie altesaam 101 voorvalle van kabeldiefstal en/of vandalisme van munisipale infrastruktuur aangemeld," het Sauer gesê.
"Die steel van munisipale elektriese kabels wat straatligte en elektriese kiosks affekteer, het 'n aantal gemeenskappe in duisternis gelaat met herstelwerk wat dikwels herhaaldelik in dieselfde area moes plaasvind."
Vandalisme is 'n misdaad en raak die belastingbetaler se sak.
Rapporteer mense wat aan munisipale eiendom peuter, of dit verf, breek of steel by George-munisipaliteit se wetstoepassingseenheid (044 801 6350 of 044 801 6300 na-ure) sodra jy dit waarneem.
Indien jy foto's van die skuldiges op heterdaad kan neem, sonder om jouself in gevaar te stel, sal dit baie help.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'