OUDTSHOORN NUUS - Tydens die afgelope Dalene Matthee-boekefees op Herold op Vrydag 8 en Saterdag 9 Mei, het die organiseerder Darryl David, en skrywer Riana Scheepers, die Riana Scheepers Kreatiewe Skryfkunsprys vir onderwysers aangekondig.
“Onderwysers werk onder uiters moeilike omstandighede met min administratiewe ondersteuning en verkeer dikwels onder geweldige emosionele druk.
"Hulle kry feitlik nooit kans om af te skakel nie, en met hierdie kompetisie wil ons die geleentheid vir onderwysers skep om kreatief te wees en vir ’n rukkie van die klaskamer te vergeet,” het David gesê.
Die kompetisie is oop vir alle onderwysers wat tans in diens is, en sluit op 10 Januarie 2027. Die tema van die kompetisie is Droesem en die woordbeperking is 2 000 woorde. David sê meer besonderhede oor die kompetisie sal binnekort bekendgemaak word en alhoewel hy ’n voorliefde vir Afrikaans het en die fokus van sy leesfeeste op Afrikaans is, kan inskrywings ook in Engels voorgelê word.
“Ek is regtig trots dat so ’n bekende en gerekende skrywer soos Riana Scheepers bereid is om haar naam aan hierdie projek te koppel. Ek voorsien dat die kompetisie wat gebore is op die kleinste dorpie waar ’n boekefees nog ooit gehou is, baie groter gaan word en veel wyer sal uitkring,” het David gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’