Gallery
GEORGE NUUS - Wat aanvanklik 'n toekenningsgeleentheid en fondsinsameling moes wees, het op Vrydagaand, 12 September, in Rosemoor 'n ander, maar ewe betekenisvolle draai gemaak. Sanca Tuinroete het 'n skolekunskompetisie en gala-aand beplan met die verwagting om sowat 80 gaste te ontvang, maar toe net 'n handjie vol deelnemers en hul families opdaag, het die organisasie vinnig plan B in werking gestel.
In plaas daarvan om moed op te gee, is die Rosemoor-gemeenskap spontaan uitgenooi om die aand gratis saam te kom geniet.
Die gehoor het kort daarna tot meer as 110 mense gegroei, en die saal is gevul met jonk en oud wat saam hoop, kleur en gemeenskapsgees kom vier het. Kletsrymer N1 Jozi het die gaste vermaak.
GALERY - Sanca kuier in Rosemoor vir 'n aand van kuns en kultuur
"Ons het nie geld gemaak met die funksie nie, maar dit was op die ou end 'n groot sukses," vertel Denise de Beer, direkteur van Sanca Tuinroete.
"Die aand het vir ons nuwe betekenis gekry - ons het werklik met die Rosemoor-gemeenskap 'herverbind'. Dit het vir baie mense 'n positiewe alternatief vir 'n Vrydagaand gebied."
Die aand se tema, Hoop in kleur: staan op en verbind weer, is dus meer as net 'n slagspreuk.
"Dit is 'n bewys dat Sanca se werk nie net oor dwelmvoorkoming en gesondheid gaan nie, maar ook oor die bou van verhoudings en om die gemeenskap sterker te maak," sê De Beer.
Wenners
Hierdie jaar se skolekunskompetisie, wat onder die tema, 'Skep met kleure, nie met dwelms nie' gehou is, het inskrywings van vyf skole gelok: Delville Park Primêr, Laerskool Hoekwil, Van Kervel Skool, St Mary's Primêr en Parkdene Primêr.
Jovane Heyns (13, links), in die derde plek, saam met die wenner, Corrin Erasmus (13). Beide leerders is in gr. 7 by Delville Park Primêr.
Die wenner van die kompetisie is Corrin Erasmus (13) van Delville Park Primêr, met Haydn Moul (12) van Laerskool Hoekwil as naaswenner en Jovane Heyns (13), ook van Delville Park Primêr, in die derde plek.
Haydn Moul (12) se kunswerk (links bo) het hom 'n tweede plek behaal.
Die leerders se kunswerke is met trots tydens die funksie uitgestal en 12 wenontwerpe is gekies om op Sanca se 2026-fondsinsamelingskalender te verskyn.
Die kompetisie het jongmense 'n kreatiewe platform gegee om hoop, veerkragtigheid en die belangrikheid van 'n dwelmvrye lewe uit te druk. Die pryse is geborg deur Little Art Shop, Diskonto en Art Savings Club.
Kontak Sanca Tuinroete by 044 884 0674.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’