GEORGE NUUS - Virgill Gericke, leier van die PBI, is op die oorlogspad. Hy het 'n klagte by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ingedien oor 'n plasing op 'n sosiale blad, Lokasie staan saam (LSS). Die blad het glo meer as 20 000 volgelinge.
Gericke voer aan die plasing is disinformasie, 'n verdraaiing van die waarheid en laster.
Hy is glo daarvan beskuldig dat hy in sy hoedanigheid as raadslid van 'n munisipaliteit 'n setel van die VF Plus opneem.
Gericke wys in die brief daarop dat een van die lede van die blad blykbaar op Icosa se kandidatelys vir die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer is.
In die brief skryf hy dat hy die munisipale bestuurder van die distriksmunisipaliteit sowel as plaaslike OVK-amptenare gevra het om die status van die aantygings vas te stel. Nie een van hulle kon die egtheid daarvan bevestig nie.
Hy beskou die tydsberekening van die aantygings as verdag en wat hom betref vereis dit ernstige ondersoek. Gericke het die brief aan die George Herald beskikbaar gestel. Hy was reeds in kontak met sy regsverteenwoordiger en het hom opdrag gegee om met 'n saak van naamskending te begin.
Gericke het Dinsdag gesê hy het bevestiging van die OVK ontvang dat die aangeleentheid ondersoek word.
Brendon Adams, eienaar van LSS, het by navraag gesê hy het niks verkeerd gedoen nie. "Daar was gerugte in die gemeenskap. Ek het hom (Gericke) op die blad kans gegee om sy kant van die saak te stel. Dit is in openbare belang."
Hy het ook nooit Gericke se naam genoem nie.
Volgens Adams het hy reeds in 'n brief aan Gericke se prokureur geantwoord. Hy het die brief ook aan die George Herald beskikbaar gestel.
In die brief skryf Adams onder meer dat hy glo hy (Gericke se regsverteenwoordiger) sal saamstem dat in politiek mens hare op jou tande moet hê en bereid moet wees om kwellende vrae vanaf die publiek en teenstanders te beantwoord.
Adv. Gert van Niekerk, VF Plus-lid in die George-stadsraad het gesê dis loutere snert.
Die VF Plus het een proporsionele setel in die stadsraad. "Ek sit in daardie setel en geen ander party nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'